DieBurger WEBWERWE/DIENSTE >

Rivier-moord: Nóg 2 vas...

Deur: Janice Keogh 2012-07-14 00:00

JOHANNESBURG. – Nóg twee mense word saam met Estie Pienaar in Zambië van die moord op haar man aangekla.

Nicky Rossouw, eienaar van die Nina Fishing Camp in Berotseland, waar Marius Pienaar (50) vermis geraak het, asook ’n werknemer van hom word saam met Pienaar se vrou, Estie (33), aangekla.

Die drie kan die doodstraf kry as hulle skuldig bevind word, maar dit sal waarskynlik nie voltrek word nie.

Die Pienaar-egpaar het by die kamp aan die Zambezi-rivier vakansie gehou toe Marius op 26Junie vermis geraak het. Sy lyk is op 30Junie in die rivier in die omgewing van die kamp gevind, waarna dit na Lu­saka geneem is vir ’n nadoodse ondersoek. Daar word vermoed hy is met ’n stomp voorwerp oor die kop geslaan.

Die Suid-Afrikaanse hoëkommissariaat in Zambië het gister bevestig Rossouw (’n Namibiër) en ’n Zambiër is saam met Estie in hegtenis geneem en word tans deur die polisie in Sesheke in die suide van die land aangehou.

Die Zambiër, wie se naam nie bekend is nie, het glo vir Rossouw gewerk.

Rossouw het tydens die drie dae wat Marius weg was gereeld foto’s en boodskappe op sy Facebook-blad geplaas om mense op hoogte te hou van hoe die soektog verloop.

Volgens die hoëkommissariaat en ’n vriend van Rossouw in Zambië word die beskuldigdes van moord aangekla en verskyn hulle op 25Julie in die landdroshof op Sesheke.

Nelson Kgwete, woordvoerder van die departement van internasionale betrekkinge en samewerking, het egter ontken dat hulle van moord aangekla is.

’n Regskenner in Zambië het gesê die gebruik is dat mense binne 48uur ná hul inhegtenisneming aangekla word. Vir ernstige misdade soos moord sal die beskuldigdes ook nie borgtog kry nie.

Volgens hom word die doodstraf opgelê as iemand aan moord skuldig bevind word, en die gebruik is om die persoon te hang.

Die laaste keer toe beskuldigdes in Zambië ter dood veroordeel is, was in Januarie 1997. Agt mense is op dié dag gehang.

Zambië is op Amnestie Internasionaal se lys van lande wat die doodstraf “in praktyk afgeskaf” het.

Rossouw se vriend het uit Zambië gesê die beskuldigdes “probeer positief bly, maar dit is maar moeilik”.

Die Burger
«Terug