DieBurger

Robinson bepleit gehalte-onderrig in SA

Deur: Marelize Potgieter 2012-08-07 05:44

KAAPSTAD. – Die Suid-Afrikaanse skolestelsel het gister opnuut onder skoot gekom toe oudpres. Mary Robinson van Ierland indringende vrae daaroor gevra het.

“Waarom is die Suid-Afrikaanse onderwysstelsel nog nie op koers nie, en waarom is die ongeletterdheidsyfers in die land so hoog?”

Robinson was die genooide spreker by die opening van ’n vraghouer-biblioteek by die Primêre Skool Vuyani in Guguletu.

Dié voormalige hoë kommissaris vir menseregte van die Verenigde Nasies het dié vrae Sondag ook gevra toe sy die tiende Nelson Mandela-gedenk­lesing in die Kaapse stadsaal gelewer het.

Sowat 100 mense – van nieregeringsorganisasies, lede van die media, die Wes-Kaapse onderwysdepartement en leerders en onderwysers van die skool – het die opening van die biblioteek gister bygewoon.

Dit is een van 20 vraghouerbiblioteke wat vanjaar landwyd deur die Mandela Day Libraries-projek geopen word.

“Onderwys is nie net die belangrikste mensereg wat daar is nie, dit is ook die venster tot al die ander regte vir die mensdom.

“Vandag is die belangrikste hoed wat ek dra dié van ’n ouma. Ek is die ouma van ’n agt, sewe-, vyf- en driejarige en daarom is ek ongelooflik geïnteresseerd in onderwys, skole, onderwysers en ouers.

“Ons het ook nie ’n perfekte stelsel in Ierland nie. Ons het bloeijare gehad, maar ons het steeds nie algehele geletterdheid onder volwassenes nie.”

Sy glo een van die belangrikste goed om ongeletterdheid uit te roei, is om onderwysers na waarde te ag.

“Dit was gister (ten tyde van die lesing) vir my moeilik om sekere vrae te vra, maar dit is slegs ’n ware vriend wat moeilike vrae aan jou stel.

“Ek dink daar is so baie mense wat dié vrae vra en wonder hoekom dinge in die land nie vinniger verbeter nie. Dit is goed om dit te vra, want die oomblik dat jy dié vrae vra, begin jy oplossings daarvoor soek,” het sy gesê. “Niks sal meer vir die toekoms van Suid-Afrika beteken as om die gehalte van onderrig in die land te verbeter nie.”

Die Burger
«Terug