KAAPSTAD. – In ’n vry gemeenskap behoort individue die keuse te hê om te kan rook, suiker en vleis te eet en gevaarlike sport te beoefen.
Die Free Market Foundation (FMF) het gesê die nuwe voorgestelde wysigings aan die Wet op die Beheer van Tabakprodukte (1993) wat rokers en restaurante heeltemal gaan beperk, druis teen mense se regte in.
“Geen regering het die reg om aan almal voor te skryf watter gewoontes hulle in hul daaglikse lewe moet volg nie. Hulle kan probeer om mense te oortuig om sekere gewoontes af te lê, maar is nie daarop geregtig om burgers met ’n stok by te kom deur die regstelsel – wat daar is om mense te beskerm – te misbruik nie,” het Leon Louw, uitvoerende direkteur van die FMF, gesê.
Volgens die FMF het hotelle, restaurante, werkplekke, fabrieke en ontspanningsgeriewe reeds miljoene bestee om rookgeriewe binnenshuis te ontwikkel.
Die nuwe wysigings verbied enige rook in geboue en volgens die FMF gaan dit baie verder as om mense teen passiewe rook te beskerm. “Dit is ’n erosie van persoonlike keuse, basiese vryheid en waardigheid”.
Volgens die FMF is restaurante en kuierplekke in private besit, nie openbare besit nie. “In ’n vrye samelewing kan die restauranteienaar en sy kliënte besluit of die eiendom vir rokers of nie-rokers is.”
Volgens die voorgestelde wysigings mag ’n mens nie binne 10m van ’n oop deur af rook nie.
“Probeer om 10m weg te kom van ’n spazawinkel in Khayelitsha sonder om voor ’n ander deur te staan,” lui die FMF se kommentaar.
Die nasionale departement van gesondheid het gesê hy is geskok oor die FMF se uitsprake. “Ons sal nie sag raak nie, maak nie saak wat die FMF glo nie. Sy uitsprake is selfsugtig, onverantwoordelik en onkundig.”
Louw het gesê hy het self nog nooit gerook nie, maar sy protes gaan oor die inperking van mense se vryhede.
Die Burger