KAAPSTAD. – Nie ’n enkele een van Suid-Afrika se nuwe en opgeknapte stadions staan tans leeg nie. Elkeen het een of meer sportspanne wat dit as tuisveld gebruik.
Dít blyk uit ’n antwoord op ’n skriftelike parlementêre vraag van Graham MacKenzie, Cope-LP, aan Fikile Mbalula, minister van sport en ontspanning.
MacKenzie wou weet watter van die land se stadions, nuut en opgeknap, word deur watter sportspanne benut.
Volgens Mbalula is Ajax Cape Town tans die enigste klub wat die Kaapstad-stadion as tuisveld gebruik.
Die Mbombela-stadion is beter af, aangesien dit die tuiste van die Wits-sokkerspan en die Mpumalanga-rugbyunie (Pumas) is.
Mbalula het gesê in Pretoria word die Loftus Versfeld en die Lucas Moripe-stadion onderskeidelik deur die Blou Bul-rugbyunie, Mamelodi Sundowns en SuperSport United benut.
“Johannesburg spog met vyf stadions wat almal permanent gebruik word. Dit sluit in die FNB-stadion, tuiste van Kaizer Chiefs; die Orlando-stadion, tuiste van Orlando Pirates; die Rand-stadion, tuiste van Mpumalanga Black Aces; die Dobsonville-stadion, tuiste van Moroka Swallows; en Ellispark, tuiste van die Gauteng-Leeus-rugbyunie.
“Die Peter Mokaba-stadion is die Black Leopards-sokkerklub se tuisveld, die Vrystaat-stadion in Bloemfontein dié van die Vrystaat-rugbyunie en die Moses Mabhida-stadion in Durban dié van Golden Arrows en AmaZulu,” lui Mbalula se antwoord.
Hy het gesê die Royal Bafokeng-stadion op Rustenburg is die tuisveld van die Platinum Stars. In Port Elizabeth huisves die Nelson Mandelabaai-stadion nie net die OP-Rugbyunie nie, maar ook die streekkantoor van die Suid-Afrikaan- se Sokkervereniging.
Die Burger