KAAPSTAD. – Personeel van streekkantore van die Suid-Afrikaanse Inkomstediens (SAID) is na die kantore in Kaapstad en Bellville verskuif om die druk tydens die belastingseisoen te verlig.
Die SAID se streekbestuurder, Willie Viljoen, het gesê hulle sien daagliks gemiddeld 1500 belastingbetalers by die kantore in Kaapstad en Bellville.
Gisteroggend was daar ’n lang tou buite die SAID-kantore in die Kaapse middestad. Sommige mense was reeds omstreeks 06:00 buite die gebou in Langstraat.
“Die belastingseisoen plaas geweldige druk op die personeel. Daarom het ons sommige van ons werknemers herontplooi. Al ons werkstasies is ook ten volle beman,” het Viljoen gesê.
Baie van die personeel werk oortyd om belastingbetalers wat nog ná kantoorure in die gebou is te help.
Viljoen het gesê die gemiddelde wagtyd vir belastingbetalers in hul kantore wissel tussen 45 minute en ’n uur.
Die SAID het in 2008 ook ’n uitreikprogram begin, bekend as Engagement, wat deur Francois Engelbrecht bestuur word. Dit behels dat werkers van die SAID winkelsentrums en werkplekke besoek om mense wat nie tyd het om in toue te staan nie, te help.
“Ons konsentreer veral op nie-belastingbetalers by prioriteitsdienste, soos die departemente van gesondheid, verdediging en openbare veiligheid, asook die polisiediens,” het Engelbrecht gesê.
Beamptes van die SAID is vir vyf maande van die jaar by die uitreikprogram betrokke.
Benewens die noodsaaklike dienste, reik die program ook uit na gemeenskappe soos Hermanus en Vredendal.
“Dit is ver vir die mense in dié soort gebiede om tot in Kaapstad te kom, daarom tref ons vooraf reëlings met die plaaslike munisipaliteit om hulle ook te besoek.”
Die beamptes gaan ook tydens die 2012-belastingseisoen winkelsentrums in Goodwood, Khayelitsha, Kenilworth, Century City, Mitchells Plain, Somerset-Wes, Noordhoek, Stellenbosch en Kraaifontein besoek.
Engelbrecht het belastingpligtiges daaraan herinner dat hulle hul opgawe deur die SAID se e-filing-stelsel kan indien.)Die sluitingsdatum vir opgawes wat per pos ingedien word is 28September en 23November vir individue wat hul opgawes elektronies indien of die takkantoor besoek.
Die Burger