DieBurger WEBWERWE/DIENSTE >

Saab gaan sentrum vestig vir vlieëniers

Deur: James-Brent Styan 2012-07-13 05:00

KAAPSTAD. – ’n Nuwe opleidingsentrum vir vegvlieëniers gaan deur die Sweedse vervaardiger Saab in Suid-Afrika gevestig word.

Die Gripen-vegvliegtuig-wapenskool is ’n inisiatief van Saab in samewerking met die Gripen Air Forces-verbruikersgroep. Dit sal by die Overberg-lugmagbasis gesetel wees.

Die nuwe sentrum sal die vermoë van ervare Gripen-vlieëniers van oor die hele wêreld opskerp. Die skool sal gevorderde opleiding verskaf.

Anne Lewis-Olsson, Saab-woordvoerder, het gister gesê die belegging van multimiljoen dollar sal vir minstens tien jaar geld.

Sy het gesê die kursus sal in die Suid-Afrikaanse somer gehou word en die opleiding sal akademies wees en sal ook oorlewingsoefeninge sowel as gevorderde vliegvaardighede insluit.

Die opleiding sal aanvanklik net beskikbaar wees vir veg­vlieëniers van lande wat Gripen-vegvliegtuie gebruik. Daar is tans Gripens in die lugmagte van Swede, Suid-Afrika, Hongarye, Tsjeggië en Thailand.

Die eerste opleidingskursus sal einde 2013 begin. Lewis-Olsson het gesê in die eerste jaar sal daar een vlieënier van elke land vir opleiding gestuur word.

“Saab glo dit is nou nodig om ’n gevorderde opleidingsentrum te stig vir ervare Gripen-vlieëniers met die doel om hul vaardighede uit te brei,” het Magnus Lewis-Olsson, Saab se hoof vir Suid-Afrika gesê.

Lewis-Olsson het gesê die skool en die gepaardgaande lesse wat geleer sal word met die gebruik van die Gripens, sal Saab help met die verdere ontwikkeling van die vliegtuig.

Die Suid-Afrikaanse Lugmag het 26 Gripens wat deur 2 Eskader gebruik word. Dié vegvliegtuie is op die Makhado-lugmagbasis in Limpopo gestasioneer.

“Instrukteurs van die Suid-Afrikaanse lugmag, sowel as van Saab self en van die ander lande se lugmagte, sal die opleiding waarneem.

“Die Suid-Afrikaanse regering, veral die departemente van openbare werke en verdediging, is ook betrokke,” het Lewis-Olsson gesê.

Die Burger
«Terug