DieBurger WEBWERWE/DIENSTE >

Selebi ontslaan ná 3 dae in hospitaal

Deur: Hanti Otto 2012-08-03 06:00

PRETORIA. – Die voormalige polisiehoof Jackie Selebi is gister uit ’n Pretoriase hospitaal ontslaan nadat hy weer Dinsdag vir behandeling opgeneem is.

James Smalberger, hoof-adjunkkommissaris van aanhoudingsdienste en korreksies by die departement van korrektiewe dienste, het gister in ’n verklaring gesê Selebi is weer in ’n hospitaal opgeneem.

Hy het by navraag bevestig dat Selebi kort ná die uitreiking van die verklaring ontslaan is.

“Selebi was ongeveer drie dae lank in ’n hospitaal. Ek kan weens dokter-pasiënt-vertroulikheid nie bekend maak watter hospitaal dit is of verder kommentaar oor sy mediese toestand lewer nie,” het Smalberger gesê.

’n Woordvoerder van die Steve Biko Akademiese Hospitaal het Maandag gesê Selebi is nie langer ’n pa­siënt daar nie nadat hy vroeër gevra het om na die Jakaranda-hospitaal oorgeplaas te word. Hy sou daar ook sy eie mediese onkoste dra.

Selebi is op 20 Julie weens eindstadium-nierversaking op mediese parool vrygelaat.

Hy het net 229 dae van sy vonnisd van 15 jaar vir onder meer korrupsie uitgedien. Kort nadat sy appèl misluk het, het hy ineengestort. Hy is daarna na die Steve Biko-hospitaal geneem.

Smalberger het in sy verklaring gesê die adviesraad vir mediese parool, wat uit 11 mediese dokters bestaan, het ’n onafhanklike mediese verslag aan die korrektiewe toesig-en-paroolraad verskaf voordat Selebi vrygelaat is.

Die mediese paroolvoorwaardes sluit onder meer in dat Selebi hom te alle tye skaflik moet gedra, geen misdryf begaan nie, sy woonadres nie sonder toestemming verander nie en Pretoria nie sonder toestemming verlaat nie.

Daarby mag hy geen dwelms gebruik of alkohol misbruik nie. Selebi se parooltoesigbeampte sal hom ook minstens een maal per week besoek.

Die Burger
«Terug