LONDEN. – Manjifiek, Hashim Amla en die Proteas! Skitterend Ernie Els!
Die Suid-Afrikaanse krieketspan, met die bobaas-kolwer Amla aan die spits, het hul Engelse eweknieë gister behoorlik gekasty op die vierde dag van die eerste toets op die Oval.
Die Engelse het met uitskeityd gesteier op 102/4 in sy tweede beurt. Hulle moet nog 150 aanteken om ’n beurtnederlaag af te weer nadat die Proteas sy eerste beurt op ’n allemintige 637/2 verklaar het. Die Engelse het 385 in hul eerste beurt aangeteken.
Els het gister op sy beurt met een van die ongelooflikste rondes gholf van sy lewe die Britse Ope die tweede keer gewen. Hy het dit in 2002 ook reg gekry.
Marizanne Kok berig hy het in winderige toestande by die Royal Lytham & St. Annes-gholfbaan aan Engeland se Fylde-kus ’n agterstand van ses houe oor nege putjies uitgewis om die Australiër Adam Scott te klop.
In Londen het Amla een van die merkwaardigste individuele vertonings in die geskiedenis van Suid-Afrikaanse sport voltooi met ’n onoorwonne 311 lopies in 13 uur en 9 minute.
Hy het die eerste kolwer in die geskiedenis van Suid-Afrikaanse krieket geword om 300 lopies in ’n toetsbeurt aan te teken.
Die vorige rekord was die onoorwonne 278 wat AB de Villiers in 2010 teen Pakistan in Abu Dhabi behaal het.
Wat Amla se vertoning verstommend maak, is dat hy as toegewyde Moslem die heilige maand van Ramadan vier en nie bedags soos sy ander spanmaats kan eet en drink nie.
Daar word wel ’n uitsondering gemaak vir sportmanne wat op toer is dat hulle nie hoef te vas nie, maar Amla hou daarby om geen vloeistof of voedsel in te neem terwyl hy dan op die veld is nie.
Hy en Jacques Kallis (182*) het ook ’n onoorwonne rekord-vennootskap van 377 om die derde paaltjie gekolf en daarmee twee rekords wat al sedert 1947 staan uit die boeke gevee.
Dit was Alan Melville en Dudley Nourse se SA rekord van 319 teen Engeland en ook die hoogste vennootskap hier in Engeland deur enige span, wat die Engelse paar van John Edrich en Denis Compton (370) op Lords teen SA geslaan het.
Toe Kallis sy 43ste toetshonderdtal behaal het, het hy met sy vinger na sy oog gewys en daarmee erkenning gegee aan sy groot vriend Mark Boucher, wat weens ’n ernstige oogbesering nie meer deel van hierdie toer is nie.
Amla en Kallis het die Engelse boulers moedeloos geslaan.
Hul vier voorste boulers het ook almal meer as ’n 100 lopies afgestaan en dit is ook die eerste keer nóg dat Engeland twee agtereenvolgende vennootskappe van meer as 350 lopies afgestaan het.
Amla en sy kaptein, Graeme Smith (131), het 259 lopies om die tweede paaltjie gedeel.
Smith het ook die sewende kolwer nóg geword wat ’n honderdtal in sy 100ste toets slaan.
VGoed gespeel, Amla! Jy verdien dit! ’n Legende in wording! Sien uit daarna om ons boulers hierop te sien boul. Dag 5 kan opwindend wees!
VDit was moeilik om te kyk. Dankie, Jakes! Wonderlike krieketspeler, beter vriend! Proteas het hulself in ’n sterk posisie geplaas!
Die Burger