PRETORIA. – Massiewe tekorte bou by skole op omdat ouers nie meer by die stygende koste kan byhou nie.
Boonop betaal die regering vir openbare skole vanjaar ’n subsidie van 82c per dag vir ’n leerder in ’n ryk skool (kwintiel 5) en R4,80 vir een in die armste skool (kwintiel 1).
Dit beteken ryk skole behoort R165 per kind per jaar te kry, terwyl R960 by ’n kind in ’n kwintiel 1-skool moet uitkom.
Dit sluit egter nie onderwysers se salarisse in nie.
Dit is ’n model wat kan beteken dat die omvang en gehalte van onderrig geheel en al in die slag kan bly, het Paul Colditz, uitvoerende hoof van die Federasie van Beheerliggame van Suid-Afrikaanse Skole (Fedsas), gesê.
Fedsas steun die pleidooi dat ’n nuwe finansieringsmodel gevind moet word. “Dit behoort gedoen te word op grond van die armoede-indeks van elke kind en nie van die skool nie.
“’n Skool wat vandag toevallig in ’n voormalige wit woongebied is en ’n heining het, maar leerders uit naburige plakkerskampe bedien, kan nie as ryk bestempel word nie.”
Volgens Colditz is Suid-Afrika se besteding aan onderwys van die hoogste ter wêreld, maar dit bereik nie die kinders nie.
Hy meen ’n massiewe klomp geld word in onderwysburokrasie ingepomp. Boonop gaan miljarde rande verlore weens wanadministrasie. “Die fokus moet verskuif as die regering ernstig oor onderwys is.”
Oor die toekoms van voormalige model C-skole het Colditz gesê hoe groter die wurggreep raak, hoe vinniger gaan gehalte agteruitgaan.
“Die meeste van die skole gebruik die skoolgeld wat hulle inkry (byna 50%) vir bykomende personeel, waarvoor beheerliggame betaal.
“As hulle al hoe minder geld kry, gaan hulle drasties aan dié personeel sny, wat beteken klasse gaan baie groter word”
Die Burger