DieBurger WEBWERWE/DIENSTE >

Stadsraad gelooi oor verhogings

Deur: Marelize Barnard 2012-05-29 00:00

KAAPSTAD. – Die “massiewe” verhogings in munisipale tariewe wat van 1 Julie deur die stadsraad ingestel word, is vergelykbaar met “die ou Wet van Transvaal”, het die VF+ gister gesê.

Opposisiepartye in die stadsraad het die begroting en verhogings in tariewe vir die 2012-’13- boekjaar as onbekostigbaar hoog afgeskiet.

André Fourie (VF+) het ’n ou idioom gebruik om sy onmin te toon: “K— en betaal is die wet van Transvaal.” Hy het gesê die VF+ kan nié die begroting ondersteun nie.

“Die DA is net soos die ANC, wat verhogings voorstel vér bo die inflasiekoers. Die oorkoepelende inflasiekoers is 4%, terwyl die verhogings vir munisipale dienste baie hoër is.”

Die verhogings is: elektrisiteit (11%), grondbelasting (8%), water en sanitasie (15%) en vullisverwydering (7%).

“Daar word gesê ons is beter as die ANC-beheerde metro’s. Dit is geen prestasie om dít reg te kry nie,” het Fourie bygevoeg.

Ferlon Christians (ACDP) het gesê die inwoners van Kaapstad het ’n belastingvakansie nodig met ’n 0%- verhoging in tariewe.

Peter Gabriel (ANC) het gesê die verhoging in munisipale belastings is onaanvaarbaar hoog. “Die verhogings bo die inflasiekoers is ’n nuwe mode wat sedert 2006 deur die DA gevolg word en wat die mense op die Kaapse Vlakte en in die townships nie kan bekostig nie.”

Die burgemeester, Patricia de Lille, het gesê die begroting gee aan Kaapstad ’n verdere mededingende voordeel om die leier as ’n betroubare diensverskaffer in Suid-Afrika te bly.

“Dit is juis as gevolg van ons doeltreffende begroting dat ons die beste vaar met die verskaffing van basiese dienste en nie sit met ’n krisis om rekenings uit te stuur, eindelose slaggate in die paaie, geen water in krane en ligte wat nie werk nie.”

Die totale 2012-’13-begroting is R30,2miljard – 80,4% (R24,3 miljard.) vir operasionele uitgawes en 19,6% (R5,9 miljard) vir kapitaaluitgawes.

De Lille het gesê Kaapstad het landwyd die voortou geneem om agterstande in onderhoud en opknapping van sy infrastruktuur uit te wis. Daar word in die komende boekjaar gefokus op herstel en onderhoud en daarom word R2,6miljard hiervoor begroot (44% meer as die huidige boekjaar).

Tony Ehrenreich (ANC) het gesê die verhogings is ver bo die inflasiekoers, dus gaan mense al hoe armer word. Hy het gevra dat belasting vir ryk inwoners verhoog word. “Die stadsraad gee so min aan die histories arm gemeenskappe dat die ongelykheid van die gemeenskap op dié manier nooit uitgewis sal word nie.”

De Lille het gesê die stadsraad gaan die nasionale ontwikkelingsplan volg, wat ten doel het om die ongelykhede landwyd uit te wis.

“Die hele Suid-Afrika is ongelyk. Ons is die mees ongelyke land ter wêreld.”

Volgens De Lille het ’n onlangse verslag van die Verenigde Nasies getoon die drie mees ongelyke stede wêreldwyd is Johannesburg, Oos-Londen en Durban.

Die Burger
«Terug