KAAPSTAD. – Personeel by ’n privaathospitaal in Sunningdale naby Bloubergstrand was gister tjoepstil nadat inligting uitgelek het dat die Microsoft-baas, Bill Gates (57), Donderdag daar vir ’n beseerde skouer behandel is.
Volgens inligting wat Die Burger ontvang het, het Gates en sy familie Donderdag op die sandduine buite Atlantis gaan plankry.
Gates het sy skouer ontwrig.
Hy is ná die besering onmiddellik per ambulans na die Netcare Blaauwberg-hospitaal gebring ,waar hy Donderdag tussen 14:40 en 17:30 behandel is.
Hy is Vrydagoggend ontslaan en het nog dieselfde oggend na Amerika vertrek.
Na verneem word, het Gates, volgens Forbes die rykste man in die VSA, in die vyfster- One&Only-hotel in die V&A Waterfront tuisgegaan.
’n Woordvoerder van die Kaapstad-munisipaliteit se rampbestuurafdeling, Wilfred Solomons-Johannes, het gister die voorval bevestig.
Volgens Solomons-Johannes het diplomatieke amptenare by die Amerikaanse departement van buitelandse sake bevestig dat Gates op ’n privaat-vakansie in Suid-Afrika was.
Hy het glo verlede week in die land aangekom en het sy eie veiligheidsreëlings getref. Volgens Solomons-Johannes het Gates ook vergaderings van die Gates-stigting bygewoon.
Ene Alan by Sun Scene, een van die maatskappye wat sandplankry-ritte by die Atlantis-duine aanbied, het gister gesê hulle het feitlik elke dag mense wat daarnatoe kom om die duine te ry, maar maak nie persoonlike inligting oor hul kliënte bekend nie. – Maygene de Wee
Die Burger