PRETORIA. – Die leër se Infanterieskool op Oudtshoorn het vandeesweek sy vyfde slagoffer geëis toe ’n vrouerekruut dood is.
“Dit het nou tyd geword dat haar familie ’n klag van moord gaan indien, want só kan dit nie aangaan nie,” het adv. Pikkie Greeff van die SA Nasionale Weermagunie (Sanwu) in reaksie gesê.
Sktr. Elvirsha Bruintjies (25) is Maandag kort voor middagete in die skool se siekeboeg dood.
Volgens kapt. Malcolm Pojie, Suid-Kaapse polisiewoordvoerder, het Bruintjies Maandagoggend die siekeboeg vir ’n roetine-ondersoek aangedoen aangesien sy swanger was.
Terwyl sy gewag het om ondersoek te word, het sy asemnood ontwikkel. Twee dokters het probeer om haar lewe te red, maar sy is dood.
’n Onafhanklike lykskouing gaan blykbaar môre op George gehou word om te bepaal waaraan sy dood is. Die polisie het ook ’n geregtelike doodsondersoek geopen, wat beteken ’n hof sal moet beslis of iemand vir haar dood verantwoordelik gehou kan word of nie.
Volgens ingeligtes het die rekrute, onder wie Bruintjies, Vrydag ’n erge sessie strafoefening ondergaan. Bruintjies het blykbaar ook as jong kind ’n hartoperasie ondergaan.
Volgens Greeff móét daar eenvoudig nou behoorlik ondersoek ingestel word na die keuring- en opleidingspraktyke by die skool.
“As sy ’n harttoestand gehad het, is die vraag hoe sy toelating tot die weermag gekry het. Die persoon wat haar mediese klaring gedoen en haar fiks verklaar het, is aandadig aan haar dood,” het Greeff gesê.
“En hoe kom dit dat ’n swanger rekruut aan die ergste opleiding denkbaar onderwerp word?
Die vrouerekrute word elke ses weke vir swangerskap getoets. Dit is nie bekend hoe ver swanger Bruintjies, wat uit ’n militêre familie kom, was nie.
Dit blyk ondertussen die geregtelike doodsondersoek nadat ’n rekruut in Desember tydens fisieke keuring vir die spesiale magte aan hitte-uitputting gesterf het, is nog nie afgehandel nie.
Dié rekruut, wie se naam nie bekend gemaak is nie, het ure lank in die son gelê terwyl op ’n ambulans gewag is. Ander soldate het uiteindelik met hom siekeboeg toe gejaag, maar dit was reeds te laat.
“Die weermag smeer sy wanpraktyke by die skool toe,” het Greeff gesê.
Die Burger