KAAPSTAD. – Droewige tye word vir die Suid-Afrikaanse ekonomie voorspel as die voorlopige interdik teen nuwe tolheffings in Gauteng nie dadelik tersyde gestel word nie.
Só waarsku Pravin Gordhan, minister van finansies, in ’n dringende aansoek om appèl wat hy gister by hoofregter Mogoeng Mogoeng in die konstitusionele hof ingedien het.
Suid-Afrika sal hom moet voorberei op uiters negatiewe internasionale kredietgraderings en noodsaaklike dienste aan skole, hospitale, paaie en gesondheid sal doodeenvoudig in die stof moet byt as die voorlopige interdik bly staan totdat ’n hersieningsproses – en gevolglike appèlsake – in verband met die tolgeld “eendag” afgehandel kan word.
Gordhan beskou sy aansoek as só dringend dat hy Mogoeng versoek het om die konstitusionele hof in die resestyd in Julie byeen te roep om die aansoek aan te hoor.
Hy het gesê weens die erns en dringendheid van die saak kan daar nie nog tyd gemors word om eers appèlhof toe te gaan nie.
Sy vernaamste beswaar teen die voorlopige interdik wat regter Bill Prinsloo in die hooggeregshof in Pretoria op versoek van onder meer die Bond Teen Stedelike Tol-alliansie (Outa) toegestaan het, is dat Prinsloo die grondwetlike beginsel van die skeiding van magte geheel en al geïgnoreer het.
Dit is nie vir die howe om te besluit of regeringsbeleid en die manier waarop die regering inkomste genereer om vir uitgawes te betaal, geldig is nie, voer Gordhan aan.
Die tesourie kan immers nie langtermyn-beplannings in landsbelang doen as die howe doodeenvoudig daarby kan ingryp en bevele maak wat die beplannings omvergooi nie.
Gordhan het gesê hy bring die aansoek om appèl namens onder meer die tesourie, die SA Nasionale Padagentskap (Sanral) en die minister van vervoer.
Hy het gesê die regering het besluit om die verbeterings aan die Gautengse hoofweë te finansier op die beginsel van “die gebruiker betaal”.
“As die regering uiteindelik pa moet staan vir Sanral se skuld omdat tolgeld nie gehef kan word nie, gaan dit ’n rimpeleffek van negatiwiteit landwyd en oorsee op die ekonomie hê, tot nadeel van alle mense van die land.”
Die Burger