KAAPSTAD. – “Shosholoza, Shosholoza, Ku lezontaba, Stimela si qhamuka e South Africa...” Met die helder klanke van die bekende Zoeloe-gebedslied het koorlede van die Universiteit Stellenbosch Saterdag op die Kaapstadse Internasionale Lughawe die harte vinniger laat klop.
Hulle het pas van ’n uitgebreide koortoer in Amerika teruggekeer, en is deur familielede en vriende verwelkom. Daar was glimlagte van vreugde en trane van blydskap by die weersiens op die lughawe.
Die koor het hul universiteit onder meer van 4 tot 14 Julie by die Wêreldkoorspele, die “Olimpiese Spele” van wêreldkoorkompetisies, in Cincinnati, Ohio, verteenwoordig en stof in die oë van die ander universiteitskore van Amerika en Europa geskop. Hulle het die meeste punte, 96,6%, aangeteken in die afdeling vir geestelike musiek.
“Dit was die hoogste punt vir enige koor in die kompetisie,” het die US se koorbestuurder, Lydia Meier, aan Die Burger gesê. Ook was die koor die wenner in die afdeling vir gemengde (vroue- en manstemme) kore.
Die kompetisie word elke twee jaar gehou en bestaan uit 23 musikale kategorieë. Die US-koor het aan drie daarvan deelgeneem, naamlik dié vir gemengde kore, geestelike musiek (Musica Sacra) en populêre koormusiek.
Twee koorlede, Xitha Prins, ’n B.Com finansiële bestuur-student in haar derde jaar aan die US, het die ervaring as “ongelooflik” beskryf. Sy sing al drie jaar in die universiteitskoor, maar dit is die eerste jaar dat hulle “so goed gevoel” het.
Die solis Carla Mengel, ’n taal-en-kultuurstudent in haar tweede jaar, het gesê sy sal die toer nooit vergeet nie.
“Jy staan daar, sien die duisende mense hier voor jou, en jy wonder of ons goed genoeg gaan wees. Die gevoel wat jy hier binne kry wanneer ons klaar gesing het en die gehoor begin klap – en dit klink of die applous nooit gaan ophou nie – is iets wat ek nooit, ooit sal vergeet nie.”
Die Burger