DieBurger

Vermiste kuns R5m. werd

Deur: Janice Keogh 2012-08-18 07:00

JOHANNESBURG. – Die waarde van die skilderye wat glo onder Louise Boshoff se toesig weggeraak het, beloop nou byna R5miljoen.

Dít is nadat nog klagtes na vore gekom het van waardevolle skilderye wat aan Boshoff gegee is om in haar Adlou Expressionistic Art-galery in Hartbeespoort te hang en dan nie weer aan die eienaars terugbesorg is nie.

Louise, die dogter van die ontslape ekspressionistiese kunstenaar Adriaan Boshoff, se galery word nou gelikwideer.

Gussie Terblanché van Middelburg is twee Adriaan Boshoff-skilderye kwyt nadat sy dit vir Louise gegee het om in haar galery te hang. Die kunswerke is saam vir sowat R700000 deur Louise Boshoff gewaardeer.

Terblanché se man, Meiring, beoog om vandag ’n klag van diefstal by die Hartbeespoort-polisie aanhangig te maak nadat Louise geen van hul oproepe of SMS’e oor die skilderye beantwoord het nie.

Volgens Gussie Terblanché het Louise in ’n stadium gevra om nog van hul Adriaan Boshoff-skilderye vir hulle te verkoop. “Dankie tog ek het nie ingestem nie,” het sy gesê.

Daar is al verskeie ander sake van diefstal teen Louise Boshoff aanhangig gemaak. Een klag is vir skilderye van tot R1,6miljoen.

’n Ander klaer wat Louise al vir baie jare ken en ook vriende met haar pa was, is vier skilderye kwyt, waaronder twee ter waarde van R250000.

Sy het dit vir Louise gegee om te verkoop toe sy in ’n moeilike geldelike posisie was. Louise het ingestem, maar in ’n stadium opgehou om die vrou se oproepe en SMS’e te beantwoord.

Dr. Marthinus Beukes van Johannesburg het nie Adriaan Boshoff-skilderye verloor nie, maar ander kunswerke wat hom “baie na aan die hart lê”.

Een tekening deur Pieter van der Westhuizen het hy nog as student in Kaapstad gekoop en teen R20 per maand per poswissel afbetaal. ’n Ander werk deur Frans Claerhout het hy gekoop toe hy in die weermag was en ’n derde deur George Boys toe hy in Johannesburg begin werk het.

Dié werke, wat altesaam sowat R25000 werd is, is nou weg.

Die Burger
«Terug