KAAPSTAD. – Vuurwarm politieke debatte oor die werkomgewing en politieke kwessies word van vandag af verwag by die Suid-Afrikaanse Munisipale Werkersunie (Samwu) se nasionale kongres in Bloemfontein.
Samwu word wyd beskou as die Suid-Afrikaanse vakbond wat die naaste staan aan die linkse ideaal – ’n posisie wat Samwu ongewild maak by die ANC en die DA, om verskillende redes.
Samwu se uitgesproke teenstand teen korrupsie beloof om vanjaar se kongres ’n turksvy vir die ANC te maak, en van die Samwu-afgevaardigdes het voorspel dat die ouditeur-generaal se pas verskene verslag met skokkende bevindings oor munisipale oudits tot groot debatte op die kongres sal lei.
Daar is ’n groter tradisie van uitgesprokenheid en ’n kleiner mate van politieke gedienstigheid by Samwu as by baie ander Suid-Afrikaanse vakbonde, en byna die hele kongres is vir die media toeganklik.
Die vakbond het tot dusver ’n leidende rol gespeel om korrupsie in die ANC-beheerde Limpopo te ontbloot en was sentraal in die aandrang dat die ANC-burgemeester van Rustenburg, Matthew Wolmarans, vervolg word weens sy betrokkenheid by die moord op ’n vakbondleier en teenkorrupsiestryder, Moss Phakoe.
Terselfdertyd is Samwu uitgesproke teenstanders van die DA se liberale bestedingsvoorkeure, omdat die vakbond meen salarisaanpassings vir werkers is te karig en dat meer geld aan die ontwikkeling van basiese geriewe vir die heel armstes bestee moet word. Vanmiddag se debatte oor politieke kwessies sal na verwagting “baie verdeeld” wees, is aan Die Burger gesê.
Te midde van hierdie politieke klimaat het Cosatu gister ’n verklaring uitgereik wat ontken dat die vakbond of sy leiers ’n voorkeur oor die identiteit van die volgende ANC-leier gaan uitspreek voor die ANC se benoemingstryd later vanjaar amptelik begin.
Die Burger