DieBurger WEBWERWE/DIENSTE >

Vrou nog nie formeel in Zambië aangekla ná moord

Deur: Janice Keogh 2012-07-13 05:00

JOHANNESBURG. – Estie Pienaar (33) sal op 25 Julie in die hof in Zambië verskyn in verband met die dood van haar man, Marius Pienaar (50).

Sy is nog nie formeel van enigiets aangekla nie, het Nelson Kgwete, woordvoerder van die departement van internasionale betrekkinge en samewerking, gesê.

Sover sy kennis strek is niemand anders in verband met Marius se dood in hegtenis geneem nie.

Pienaar het reeds op 10 Julie vir die eerste keer in die hof verskyn, maar die saak is uitgestel.

Sy word in die Shesheke-polisiekantoor in die suide van Zambië aangehou.

Marius het op 26 Junie vermis geraak toe hy saam met Estie by die Nina Fishing Camp in Berotseland, Zambië, gaan visvang het. Estie het glo vir haar man se familie ’n SMS gestuur waarin sy gesê het dat hy “verdwyn” het.

Sy lyk is op 30 Junie in die Zambezi-rivier gevind en per helikopter na Lusaka geneem.

Twee naasbestaandes van Marius het anoniem gesê hy is vermoedelik met ’n stomp voorwerp oor die kop geslaan.

Kgwete het gesê Marius se lyk is steeds in Lusaka en ’n lykskouing is reeds gehou.

Die uitslag is nog nie aan die gesant in Zambië gekommunikeer nie.

Volgens Kgwete het Marius se familie nog nie met die departement van internasionale betrekkinge en samewerking oor sy begrafnis gepraat nie.

Die maatskappy waarvoor Marius in Zambië gewerk het, First Quantum Minerals (FQM), het gisteroggend in ’n verklaring gesê sy dood is ’n groot verlies.

Hy het ses jaar as ’n opsigter in die instrumente-afdeling by die Kansanshi-kopermyn in Solwezi gewerk.

“Die bestuur en werknemers is baie hartseer oor sy dood. Sy verlies is onmeetbaar,” lui die verklaring.

FQM het ook gesê hy is “bekommerd oor die omstandighede rondom sy dood en ondersteun die ondersoek deur die polisie in Zambië”.

Die Burger
«Terug