KAAPSTAD. – Planne is onderweg om meer as 300 bepalings te wysig in verskillende landswette wat dit vir munisipaliteite moeilik maak om dienste te lewer.
Mninwa Mahlangu, voorsitter van die Nasionale Raad van Provinsies (NRP), het gister gesê die minister van samewerkende regering en tradisionele aangeleenthede het reeds ’n taakspan aangestel om dit te doen.
Mahlangu het die media ingelig te midde van samesprekings tussen die NRP en die Suid-Afrikaanse Vereniging vir Plaaslike Regerings (Salga) oor die stand van plaaslike regering.
Thabo Manyoni, voorsitter van Salga, het gister gesê Salga het die wysigings versoek. “Daar is te veel wette wat bots en dit vir munisipaliteite moeilik maak om te funksioneer.”
Mahlangu het gesê die NRP sal die vordering monitor sodat die wette gouer gewysig kan word. Hy kon nie sê presies watter wette ter sprake is nie.
Volgens Xolani George, uitvoerende hoof van Salga, is dit veral wette wat die omgewing en beplanning raak.
Die Burger