KAAPSTAD. – Twee Kapenaars, Margi Biggs en Tina Botha, is onder die vyf vroue wat die afgelope naweek deur Shoprite Checkers as Vroue van die Jaar vereer is.
Nog ’n inwoner van Kaapstad, emeritus-aartsbiskop Desmond Tutu, is by dieselfde geleentheid vereer met die sakegroep se Vroue van die Jaar-toekenning vir lewenslange prestasie.
Tutu, deur die publiek genomineer as iemand wat sy lewe lank ander mense begeester en inspireer, is luidens ’n verklaring van die sakegroep vereer vir sy buitengewone visie, prestasies en die invloed wat hy op sy mede-Suid-Afrikaners het.
Tutu het gesê hy voel geëerd om op die verhoog te wees saam met hierdie buitengewone vroue wat hard werk om ’n beter toekoms vir almal te skep.
“Ek het nog altyd geglo dat vroue ‘God se grootste uitvindsel’ is. Ek het ook gesê dis tyd dat mans ophou om leierskaps- en magsposisies vir hulleself toe te eien, want vroue kan net beter vaar.
“Ek is baie trots op Suid-Afrikaanse vroue se bydraes tot ons bevryding en ons nuwe samelewing.
“Vroue se bydraes gaan dikwels ongemerk by mense verby,” het hy bygevoeg.
Tutu het gesê hy dra sy prys op aan alle buitengewone vroue van ons land. Die prysgeld skenk hy aan die Philani-projek vir kindergesondheid en voeding, die Tygerberg-kinderhospitaaltrust, die Jabulani-landelike-gesondheidstigting, die Community Arts Therapy Programme en die Desmond & Leah Tutu-erfenisstigting.
Die vyf kategoriewenners wat Saterdagaand in Emperors Palace, Gauteng, vereer is, is: Margi Biggs – goeie bure teen misdaad; Tina Botha – verleners van gesondheidsorg; Shéri Brynard – jong entrepreneurs (Young Movers); Nyeleti Mushwana – sosio-ekonomiese sake-ontwikkelaars; en Marisa van der Merwe – opvoeders.
Elkeen ontvang prysgeld van R30 000, terwyl die Shoprite-groep R100000 aan elkeen se projek skenk.
- Botha lig mense in oor beenmurgskenking en werf potensiële skenkers vir die Suid-Afrikaanse Beenmurg-register (SABMR), ’n staatsinstelling wat jaarliks honderde mense red wat aan leukemie of ander verwante bloedsiektes ly.
- Biggs, stigtervoorsitter van StreetSmart SA, help hawelose kinders van Kaapstad, onder meer deur die gemeenskap op te voed om nie geld aan kinders te gee wat bedel nie, aangesien dit hulle op straat hou.
- Die pryswennerseremonie sal op Woensdag 8 Augustus, asook die volgende dag op Vrouedag op DStv se Mzansi Magic-program uitgesaai word.- Theuns van der Westhuizen
Die Burger