DieBurger WEBWERWE/DIENSTE >

Wit Wolf sê Boerevolk se vlag sal weer waai

Deur: Jeanne-Marié Versluis 2012-08-21 07:00

PRETORIA. – Die baie gryser Wit Wolf, Barend Strydom, was gister in die hooggeregshof in Pretoria toe die 20ste Boeremag-beskuldigde aan hoogverraad skuldig bevind is.

Strydom (47) het in 1988 sewe swart mense op Strijdomplein (nou Lilian Ngoyi-plein) in Pretoria doodgeskiet.

Hy is die doodstraf opgelê, maar het amnestie gekry.

Strydom en Robert McBride was onder 150 politieke gevangenes wat in 1992 vrygelaat is.

Strydom, wat in ’n stadium vir die verdediging in die Boeremag-verhoor getuig het, het gister buite die hof gesê daar behoort ’n ondersoek te wees oor polisie-informante se betrokkenheid by die saak.

“Waarom word ’n informant wat my sou aanhits met voorstelle van moord byvoorbeeld nie ondersoek nie?” het hy gevra.

Hy het gesê die polisie behoort self so ’n ondersoek te doen, maar ’n private ondersoek sal seker die enigste opsie wees.

Strydom het gesê hy is by die hof “uit liefde en ter ondersteuning vir ons Boerevolksgenote”.

“Verontregting teen die Boerevolk word daagliks groter.

“Hoogverraad is ’n politieke aanklag en word normaalweg gebruik om teenstanders stil te maak.”

Hy het gesê die Boerevolk se vlag sal weer waai en daar sal ’n vrye republiek wees waar Boere hul regte en kultuur kan uitoefen.

Die Burger
«Terug