KAAPSTAD. – Die Nederlandse digter Gerrit Komrij (68) word onthou vir sy reusebydrae tot die Afrikaanse en Nederlandse poësie.
Hy is eergisteraand oorlede ná ’n kort siekbed in die Onze Lieve Vrouwe-hospitaal in Amsterdam, is berig.
“Die digkuns was vir hom die siel van ’n taal,” sê die Afrikaanse digter Daniel Hugo. Hy het ’n keur uit Komrij se poësie as Die elektries gelaaide hand in Afrikaans vertaal.
Komrij was die belangrikste bloemleser van sy generasie, sê Arjen Fortuin, boekeredakteur van die NRC Handelsblad.
Komrij het in 1968 gedebuteer as digter. Sedertdien het hy ’n groot, diverse oeuvre opgebou. Hy was die wenner van onder meer die P.C. Hooft-prys.
Komrij het die kollektiewe geheue in Nederland en Vlaandere verryk met sy versameling Suid-Afrikaanse poësie van die beginfase tot die einde van die 20ste eeu (in Die Afrikaanse poësie in ’n duisend en enkele gedigte), sê prof. Hans Ester, dosent in Suid-Afrikaanse kultuur aan die Radboud-universiteit in Nederland.
Komrij het van die jare tagtig af uitgestyg tot een van die grootste en rigtinggewendste Nederlandse digters van ons tyd, volgens prof. Wium van Zyl van die Universiteit van Wes-Kaapland se departement Afrikaanse en Nederlands.
“Deur sy bloemlesings van die Middeleeue tot nou het hy ook opnuut die status van die genre in Nederland help bevestig. Dit is ontsettend jammer dat geen Suid-Afrikaanse universiteit vir hom ’n ere-doktorsgraad gegee het nie.”
Hugo meen hy het die skewe beeld wat die soms hooghartige Nederlanders van Afrikaans gehad het, help regtrek. “Daarvoor kan ons hom nie genoeg dankbaar wees nie.”
Die digter Lina Spies onthou ook sy bespreking van gedigte in die NRC Handelsblad waarvoor hy dikwels ’n Afrikaanse gedig gekies het. Benewens poësiebloemleser, het Komrij romans, novelles, kortverhale, rubrieke, essays en toneelstukke geskryf, en was hy vertaler. “Komrij het die Nederlandse taal op ’n wyse beheers en verryk wat selde voorkom. Sy grootste verdienste was dat hy onbevange na kuns en letterkunde kon kyk. Hy het hom nooit deur reputasies laat beïnvloed nie,” volgens Ester.
Komrij was, saam met Henk van Woerden, die eerste Nederlandse skrywer wat op ’n US Woordfees opgetree het. Prof. Dorothea van Zyl, Woordfeesdirekteur, sê: “Ons sal hom mis vir sy spitsvondigheid, sy voortreflike vermenging van hoë en lae styl om ’n vlymskerp humoristiese effek te bereik, en veral vir sy lojale vriendskap en goedgesindheid.”
Die digter Alfred Schaffer onthou hom as ruimhartig. “’n Man met ’n skerp pen, maar iemand wat lief was vir mense, literatuur en die lewe. Sy bekende liefde vir die Afrikaanse poësie is weer sigbaar in die poësiekalender wat hy self saamgestel het (Mijn poëziekalender 2012); daar is baie dae in die jaar wat die Nederlandse leser van die kalender ’n Afrikaanse gedig sal aantref.” Komrij en sy vriend, Charles Hofman, het in Portugal gewoon.
Die Burger