DieBurger WEBWERWE/DIENSTE >

Digter was brugbouer tussen tale

Deur: Willem de Vries 2012-07-07 07:00

KAAPSTAD. – Die Nederlandse digter Gerrit Komrij (68) word onthou vir sy reuse­bydrae tot die Afrikaanse en ­Nederlandse poësie.

Hy is eergisteraand oorlede ná ’n kort siekbed in die Onze Lieve Vrouwe-hospitaal in ­Amsterdam, is berig.

“Die digkuns was vir hom die siel van ’n taal,” sê die ­Afrikaanse digter Daniel Hugo. Hy het ’n keur uit Komrij se poësie as Die elektries gelaaide hand in Afrikaans vertaal.

Komrij was die belangrikste bloemleser van sy generasie, sê Arjen Fortuin, ­boeke­redakteur van die NRC Handelsblad.

Komrij het in 1968 ge­debu­teer as digter. Sedertdien het hy ’n groot, diverse ­oeuvre opgebou. Hy was die wenner van onder meer die P.C. Hooft-prys.

Komrij het die kollektiewe geheue in Nederland en ­Vlaan­dere verryk met sy ver­sameling Suid-Afrikaanse ­poë­sie van die begin­fase tot die einde van die 20ste eeu (in Die Afri­kaanse poësie in ’n duisend en enkele gedigte), sê prof. Hans ­Ester, ­dosent in Suid-Afrikaanse ­­kul­tuur aan die Radboud-universiteit in ­Neder­land.

Komrij het van die jare tagtig af uitgestyg tot een van die grootste en rigtinggewendste Nederlandse digters van ons tyd, volgens prof. Wium van Zyl van die Universiteit van Wes-Kaapland se departement Afrikaanse en Nederlands.

“Deur sy bloemlesings van die Middeleeue tot nou het hy ook opnuut die status van die genre in Nederland help ­bevestig. Dit is ontsettend jammer dat geen Suid-Afrikaanse universiteit vir hom ’n ere-doktorsgraad gegee het nie.”

Hugo meen hy het die skewe beeld wat die soms hooghartige Nederlanders van Afrikaans gehad het, help regtrek. “Daarvoor kan ons hom nie genoeg dankbaar wees nie.”

Die digter Lina Spies onthou ook sy bespreking van gedigte in die NRC Handelsblad ­waar­voor hy dikwels ’n Afrikaanse gedig gekies het. Benewens ­poësiebloemleser, het Komrij romans, novelles, kortverhale, rubrieke, essays en ­toneel­stukke geskryf, en was hy vertaler. “Komrij het die ­Neder­landse taal op ’n wyse beheers en verryk wat selde voorkom. Sy grootste verdienste was dat hy onbevange na kuns en ­letterkunde kon kyk. Hy het hom nooit deur reputasies laat beïnvloed nie,” volgens Ester.

Komrij was, saam met Henk van Woerden, die eerste Nederlandse skrywer wat op ’n US Woordfees opgetree het. Prof. Dorothea van Zyl, Woordfeesdirekteur, sê: “Ons sal hom mis vir sy spitsvondigheid, sy ­voortreflike vermenging van hoë en lae styl om ’n vlymskerp humoristiese effek te bereik, en veral vir sy lojale vriendskap en goedgesindheid.”

Die digter ­Alfred Schaffer onthou hom as ­ruim­hartig. “’n Man met ’n skerp pen, maar ­iemand wat lief was vir mense, literatuur en die ­lewe. Sy bekende liefde vir die Afrikaanse poësie is weer sigbaar in die ­poësie­­kalender wat hy self saam­gestel het (Mijn poëzie­kalender 2012); daar is baie dae in die jaar wat die Nederlandse leser van die kalender ’n ­Afri­kaanse gedig sal aantref.” Komrij en sy vriend, ­Charles Hofman, het in Portugal gewoon.

Die Burger
«Terug