Maar die verfilming aan Vlug na Egipte is komies op die koop toe: Aan die OTM in die dorpswinkel sien ’n mens dit is die Hanover Junction Store, maar buite het dit “Dot se winkel” geword.
Onder fel ligte aan ’n kasregister sit die aktrise Marion Holm, wat die rol van Dot, eienaar van die winkel, in die nuwe reeks vertolk. Die regisseur Human Stark en sy span verfilm die hele dag in die winkel om die tonele daar af te handel. Iemand het nou die dag vleis kom aflewer, en die faktuur vir Holm gegee, vertel hy. Daarop staan toe die vleiskoper is “Dot se winkel”!
Venter se draaiboek handel oor stedelinge wat platteland toe trek om aan die geweldsamelewing van ’n groot stad te ontsnap. Maar hulle bring met hulle meer saam as wat hulle gedink het.
Soos met die faktuur, skuif werklikheid en storie van tyd tot tyd oormekaar, op en om die stel. Venter het die draaiboek ontwikkel uit verhale in die boek In die mond van die wolf, en noem dié wêreld Ouveld, ’n naam vir Hanover en omstreke wat wel bestaan, maar in onbruik geraak het.
Die filmspan van 25 lede woeker met beskikbare en inkomende talent soos dié van Frank Opperman (ingedwarrel tussen feesoptredes in Bloemfontein om begrafnisondernemer en prokureur te wees), Leandie du Randt, Karen Wessels, Richard van der Westhuizen en die belowende nuwelinge Jason Willemse en Kay Smith. (Ook in die reeks is Wilson Dunster, Chris van Niekerk, Eric Nobbs, Diane Wilson, Clara Joubert, Marchel Schoeman, Ivan Zimmerman, Bradley Olivier, Rolanda Marais en Keziah Jooste.)
Terwyl die verfilmers aan die gang is, tref ek Venter en sy verloofde, Saarkie Blaauw, in sy huis op die rand van die dorp aan. Dit is ’n gasvrye huis, gestook met baie stories, waaronder Venter se volgende reeks vir Stark-films, voorlopig bekend as Marionet en haar ma’s.
Gesprekke loop deur die dag wye draaie, wat die reeks se agtergrond en die filmwerk op vele maniere verwoord. Venter en Stark wys hoe elke stuk wêreld met sy kwota probleme sit, maar ook menslikheid en deernis. Vir Johannesburgers in die span is dit ’n verhaal van aanpassing: As jy iets groter as ’n folio wil laat druk, moet jy De Aar toe ry.
In die koue, breë strate waar Thomas Francois Burgers en Olive Schreiner geloop het, is dit dié middag stil. Poele water is skerwe spieëls in die spore wat voertuie gelaat het. Dan klink veraf sang, ’n ent weg neem mense deel aan ’n soort optog – in feite is dit ’n stoet. Blaauw sê die heining word net elke keer verder veld in geskuif om vir nog graftes plek te maak.
Hanover is klein, maar die probleme en vreugdes van die groter Suid-Afrika ontsien dit nie. Ook hier speel ’n verwikkelde stuk werklikheid af: Terwyl vigs en fetale alkoholsindroom die veldbrand hier ook in hierdie winter is, kom ’n filmspan met ’n hupstoot van meer as R1miljoen, en mense van die omgewing help en kry kans om in die prentjies te kom.
In ’n besige winkel kyk ’n regisseur na ’n monitor en verstel aan akteurs se handelinge. Hulle is soos dorpsmense wat hier iets van hul stories kom maak om aan te bied aan die wêreld anderkant Ouveld: episodes van 43 minute waarin iets van die dorpslewe getrou moet bly. Dan sê iemand: “Kom ons maak ’n mooi toneel. Stilte! Standby. Drie, twee, een...’’ En dan sag: “Aksie’’.
En jy besef vir hierdie reeks beteken mooi ook dat ’n dorpie iets word waarin die groter wêreld homself herken.
Die Burger