DieBurger WEBWERWE/DIENSTE >

Fliek oor xenofobie daag kykers uit

2012-07-22 21:24

Durban. – Voorverlede week is nuwe aanvalle van xenofobie in Kaapstad en in Botshabelo in die Vrystaat aangeteken.

Meer as 500 mense is volgens Sapa-berigte sonder heenkome gelaat in die Vrystaatse aanvalle. Man on Ground ’n Suid-Afrikaanse speelfilm wat op die internasionale rolprentfees in Durban draai, belig die moontlike dryfvere agter xenofobie.

Dit is ’n drama oor ’n Nigeriese man wat in Londen werk wat na sy vermiste broer in Johannesburg kom soek. Die regisseur Akin Omotso, wat in Nigerië gebore is, maar in Johannesburg woon en werk, spaar die kyker nie.

Dit is ’n visueel grafiese prent wat die verskrikking van xenofobie baie duidelik onder die aandag wil bring. In een van die tonele “ beleef”’ jy die laaste oomblikke van ’n man wat in ’n motor se kattebak aan die brand gesteek word..

Omotso was in die buiteland toe hy lees van die dood van Ernesto Nhamuave ’n vlugteling van Mosambiek in ’n Oos-Randse township. Hy is lewend aan die brand gesteek gedurende die landwye xenofobiese aanvalle in 2008 waarin nagenoeg 60 mense in Suid-Afrika gesterf het.

“Ek het die foto van die brandende man gesien – die mense om hom het gelag en niks gedoen nie. Ek kon net nie glo dat dit in Suid-Afrika gebeur nie.” In daardie foto het hy die idee vir ’n prent gekry.

Die prent , wat ook vraagstukke soos versoening en identiteit helder belig, speel soos ’n riller af. Die kyker beleef die daaglikse lewensomstandighede van vlugtelinge in Johannesburg en die einde word oop gelaat en suggereer dat die regering spleepvoet is om ’n daadwerklike politieke en maatskaplike oplossings te vind.

Die prent is reeds verlede jaar voltooi en het die rondtes op internasionale feeste gedoen soos Toronto, Berlyn en Washington. Omotso mik om sy prent nasionaal te vertoon, maar nie noodwendig in hoofstroom-teaters nie.

“Die prent moet by gemeenskappe uitkom, dit moet in townships wys sodat daar ‘n openlike gesprek oor xenofobie kan wees. Na die vertoning in Washington was daar druk gesprekke oor diskriminasie en die effek daarvan op mense in daardie Amerikaanse gemeenskap.”

Die titel is ’n Nigieriese uitdrukking of sêding “man on ground” en verwys na die persoon wat na jou gaan omsien of jou gaan verwelkom as jy in ’n vreemde plek aankom, verduidelik Omotso.

Hy hoop sy prent sal heling en versoening bring. Omotso is bekend om die filosofiese prent God is African, waarin besin word oor Suid-Afrika se plek op die Afrikakontinent. Reeds daarin het hy die gevare van xenofobie belig.

“Ek hou daarvan om groot en uitdagende prente te maak. Ek wil nie passiewe prente maak nie.

“As iemand sê my rolprent is nice, en hulle gaan eet ’n roomys daarna, dan sou ek voel ek het gefaal as rolprentmaker.”

  • Man on Ground draai van 3 Augustus in The Bioscope in Johannesburg. Vertonings in Kaapstad sal later bekend gemaak word.
Die Burger
«Terug