DieBurger WEBWERWE/DIENSTE >

Gewilde Vivaldi bekoor

Deur: Wayne Muller 2012-07-22 21:24

Klassieke klanke

In ’n mens se soeke na mooi ­musiek is jy soms gelukkig om op ’n juweel van ’n opname af te kom. En as dit boonop teen ’n sakpasprys is, is jy des te meer in jou skik met die vonds.

Só ’n ontdekking is die platemaatskappy Decca se nuwe ­Virtuoso-reeks – opnames van ­bekende komponiste se gewildste werke. Dit is ’n nogal uit­gebreide reeks wat musiek oor meer as 300 jaar vasvang, van Albinoni en Bach tot Verdi en Wagner, en elke CD in die reeks word aan ’n enkele komponis gewy.

Kyk ’n mens na die CD-boekie, blyk die doel te wees om ’n ­nuwe gehoor aan klassieke ­musiek bekend te stel. Daar is ’n kort “waar en wanneer”-opsomming oor die komponis, sy ­belang in Westerse klassieke musiek, en sy hoofbydraes tot die genre. Daarby kry jy ­musikale en historiese konteks vir ­elke werk op die album. Dít alles in minder as sowat 500 woorde. Verder hoef jy net te luister en te waardeer.

Op die Vivaldi-CD van gewyde werke (daar is ook ’n aparte CD met sy Vier Seisoene) vind jy die Gloria in D majeur, Stabat ­Mater in F mineur, die motet “Nulla in mundo pax sincera” en die kantate “Amor, hai ­vinto”.

Maar moenie reken dit is ­sommer hierjy-musici wat ­optree nie. Vir die Gloria en “Nulla in mundo pax sincera” is die gevierde Britse orrelis ­Simon Preston die dirigent, en die barokspesialis Christopher Hogwood dirigeer “Amor, hai vinto” en die Stabat Mater.

Dame Emma Kirkby, wat in die 1980’s en 1990’s as barok­sangeres naam gemaak het, sing in alles behalwe die Stabat ­Mater, wat deur die kontra­tenoor James Bowman uitgevoer word. Die kantate en motet is vir solosopraan, en saam met Kirkby in die Gloria sing Judith Nelson (sopraan) en Carolyn Watkinson (alt).

’n Mens kan nou eenmaal nie help om opgesweep te word deur die openingskoor “Gloria in ­excelsis” van die Gloria nie. En dan is daar die genotvolle “Laudamus te” vir twee soprane.

Die kantate en motet is dalk nie die opwindendste Vivaldi-musiek nie, maar mooi is dit ­beslis.

Bowman sorg vir ’n tere ­Stabat Mater, maar Vivaldi het al daardie emosies reeds in sy note neergepen. Dit is asof jy die kruisgebeure in die musiek hoor, met frases wat bykans snikkend oorkom.

As jy na musiekjuwele soek, gaan jy dit sekerlik op hierdie album van mooi Vivaldi-musiek kry.

Die Burger
«Terug