Wellington - Aanvanklik wou hy die leser met feite konfronteer. Woedend maak oor die toestand van die Suid-Afrikaanse skoolstelsel. Daarom was sy manuskrip aanvanklik vol voetnotas. Maar op aanbeveling van sy uitgewer het Theo Kemp sy boek, Skool, oor ’n fiksie-boeg gegooi en het die voetnotas verdwyn.
Skool vertel van die onbeholpe jong man Theo Kemp, wat probeer om antwoorde te kry oor wat met die skoolstelsel fout is. By die armer skole is dwelmverslawing, skoolhoofde wat hul verantwoordelikhede ontduik, onderwysers wat eerder sosiaal verkeer as om skool te hou, hardwerkende amptenare wat uiteindelik moedeloos tou opgooi en by die ryker skole is korrupsie, arrogansie en eetversteurings.
En oral is daar op die een of ander manier ’n soort verarming – soms is dit gekoppel aan geld, ander kere aan iets anders. Inderdaad ’n spieël waarin die res van die samelewing weerkaats word.
Kemp het twee jaar lank navorsing gedoen deur van een skool na die ander te reis, twee jaar geskryf en uiteindelik een jaar lank herskryf. Die gevolg is baie feite gegrond op tientalle onderhoude gemeng met ’n skeutjie fiksie – soos wanneer name verander word en vergrype deur leerders van een van die voorste skole in Pretoria iets heeltemal anders word as waarvoor die leerders destyds in die hof gestraf is.
In ’n skool waar geld geen probleem is nie, kom die hoofseun oor as iemand wat nie werklik verstaan wat in die wye wêreld daarbuite aangaan nie, maar tog amper soos ’n robot met ’n grootheidswaan sy verpligtinge as leier kan opnoem. “Ek wou die kontras wys tussen die verskillende skole en die kinders. Die kind het homself beskou as iemand wat die mag het om die toekoms te bepaal omdat hy wit en Afrikaans is – asof wit bevoorregting nog kan bepaal of jy ’n verskil kan maak.
“Elke keer toe ek gedink het ek het nou genoeg inligting, het ek besef hier is ’n groter, interessanter storie wat wag om vertel te word,” sê Kemp.
Saam met die woede wat uit sy navorsing ontstaan het, is daar ook ’n bewus wees van weerloosheid. Veral weerloosheid van die individuele kind wat uitgelewer is aan die stelsel.
Benewens die gegewe soos deur die volwasse verteller weergegee, is daar ook terugflitse na die verteller se kindertyd. In ’n idilliese, wit plaasomgewing, is die kind uitgelewer aan sy pa se alkoholisme en sy ma se depressie. Maar al het die verteller dieselfde naam as die skrywer, waarsku Kemp die leser moenie dink dié twee is identities nie. “Dit was ’n uitdaging dat die verteller nie ek moes wees nie. Toe ek dít eers snap, kon ek maklik van myself af wegbeweeg. Met die beskrywings van die verteller se kindertyd het ek probeer om die verteller se introspeksie te motiveer. Hy besef die obsessie met die tema waarmee hy besig is, het te doen met sy eie ervaring van strukture waarin hy as kind nie kon inpas nie.”
Die boek is die produk van ’n meestersgraad in skeppende skryfwerk wat Kemp onder Marlene van Niekerk gedoen het. Hy het ’n jaar lank met “flou stories” na haar toe gegaan wat nie vir hom óf vir Van Niekerk tevrede gestel het nie. Uiteindelik het hy ’n kortverhaal geskryf van sy eie ervarings toe hy ’n jaar en drie maande lank skool gehou het. Dit het hom laat besef waaroor hy werklik wil skryf.
“Ek het eers gedink ek skryf net oor die skole, maar ek het daardeur die land leer ken en insig gekry in die kompleksiteite waarmee ons hier te make het.”
En soms was daar vrees. “Dit was naïef om te dink ek kan in enige buurt en sitkamer ingaan en mense gaan hul storie vir my vertel. Daar is beperkinge oor hoe mense jou as ’n 35-jarige, wit man ontvang.”
Daar is talle probleme, maar die oplossings bly ontwykend. Kemp glo egter nie die onmiddellike oplossing vir die probleme lê by die regering nie, maar by die individu wat opstaan en ’n verskil maak. Soos die sjebien-eienaar wat smiddae tot ná middernag ’n groep van 50 leerders in sy woon- en werkplek laat huiswerk doen en studeer.
“Dit gaan oor hoop en dit gaan oor betrokkenheid,” sê Kemp.