DieBurger

Loocks kyk terug op dekades van sang

Deur: Willem de Vries 2012-12-08 07:00

KAAPSTAD. – Wanneer die Tygerberg Kinderkoor vanaand in sy reüniekonsert in die Kunstekaap se operahuis die program begin met “Middelpunt van ons verlange”, ’n werk sinoniem met die koor, sal 140 oudkoorlede van Nieu-Seeland, Amerika en Engeland ook op die verhoog wees.

Die koor het oor dekades deel ­geword van die Loocks se lewe: Hendrik Loock, sedert die koor se ­begin as dirigent, en later ook sy vrou, Theresa, wat die amptelike begeleier van die koor is en ook ­bekend om haar musieverwerkings vir gelyke stemme. Sy is ook betrokke by die twee kore van die Laerskool De Kuilen, waar sy onderwyseres is.

Die koor, internasionaal beroemd en veelbekroon, vier vanjaar sy 40ste bestaansjaar.

Die koor se sukses had wel ’n persoonlike prys, gee albei te kenne oor wat sy hul “outydse liefdesdiens” noem. Om drie kinders groot te maak, is ook ’n voltydse werk, en vir naweke, verjaardae of Moedersdag was daar nie juis tyd met al die optredes en oefening en die eise van voltydse onderwys nie.

Die Loocks se liefde vir koor­musiek en hul passie vir die Tygerberg Kinderkoor word ondersteun deur ’n baie getroue koorkomitee. Hendrik sê die span ontvang geen besoldiging vir hierdie liefdesdiens nie.

Die verhaal van die koor bestaan uit 15 plakboeke vol berigte en ­foto’s wat die Loocks byhou sedert albei in die 1970’s by die koor ­betrokke geraak het. En die koor se klank is deur die jare al verewig op ses langspeelplate, 14 CD’s en drie DVD’s.

Hendrik was by al die opnames betrokke as dirigent en Theresa by al die CD-opnames as begeleier.

“ ’n Kind se stem kruip tot in mense se harte. Dit het ’n eie­soortige timbre wat ander nie so gemaklik kan nadoen nie,” sê ­Theresa.

Hendrik se liefde vir kore kom van sy hoërskooljare. Sy eerste koor wat hy voor sy geestesoog gedirigeer het, was ’n opname van die “Blou Donou” op ’n langspeelplaat van die Weense Seunskoor. “Ek het gedink dís my koor in ­realiteit. Só ’n koor wou ek hê.”

As lid van die universiteitskoor op Stellenbosch onder leiding van Philip McLachlan het sy fondasie en visie vir koorsang beslag gekry.

Theresa vertel haar liefde vir musiek kom van Hannes Uys, ­Pieter-Dirk Uys se pa, by wie sy musiek gehad het. In haar stu­dentejare het sy met musiek­verwerkings begin.

“Oor die jare het die behoefte ­gegroei aan verwerkings vir ­gelyke stemme. Dit was skaars en ’n behoefte op programme,” sê Theresa. Sy is ook lief vir verwerkings van ligte Afrikaanse liedjies.

Die koor is ’n leerskool wat ’n hoë premie plaas op dissipline en goeie voorbereiding. Betrokkenheid by die koor strek wyer as die lede self. “Gesinne, grootjies, uit­gebreide familie, álmal raak ­betrokke,” sê Hendrik.

Verskeie voorste Suid-Afrikaanse komponiste het al werk ­gekomponeer vir die koor, waar­onder Hendrik Hofmeyr, Peter Louis van Dijk en Hans Roosenschoon en ­Peter Klatzow.

Tussendeur harde werk aan by tye moeilike repertoire, kom daar wel op allerlei maniere erkenning, ook buite die raamwerk van ­kompetisies. Of dit uit die gehoor self is of soos ’n uitnodiging van die Lutherse Kerk wat hulle as ­gaskunstenaars in Malmö, Swede, genooi en vir alles betaal het. ­Hulle het ’n viersterhotel gedeel met die ander gaskunstenaars, The King’s Singers.

Vir Theresa was ’n hoogtepunt toe hul kinders, Hester-Heleen, Louis en Hendrik in die koor was en hulle as gesin saam kon toer in 1993 in Europa en geld vir die Nelson Mandela-kinderfonds geïn het.

Die Loocks vul mekaar se sinne aan. Hendrik: “Dit was die Stuttgart-fees”. Theresa: “Elke land het ’n uitstalling daar gehad.”

Oor die jare was daar optredes voor geestelike leiers, koninklikes en edellui. Pres. Clinton en Mandela op Vergelegen word onthou. Koning Gustav van Swede en prinses Alexandra van Denemarke ook.

Die Tygerberg Kinderkoor, wat in 2010 in China as die wêreldkampioen bekroon is in die afdelings geestelike en volksmusiek, is ook die koor wat ’n gehoor in Tolosa, Spanje, met “My hartjie my liefie” oorrompel het en Afrikaans in Hongarye by gehore laat aanklank vind het.

Die tyd in China in 2010 was wonderlik. “’n Mens huil on­beskaamd wanneer hulle die vlag hys en die volkslied speel. Net soos in die sportwêreld. Emosioneel en trots,” sê Theresa.

Volgende jaar beplan die koor om in KwaZulu-Natal saam met die Drakensbergse Seunskoor op te tree. In 2014 reis die koor moontlik na Riga in Letland vir die volgende Wêreldkoorspele. Deelname daar sal bepaal word deur of die nodige geld gegenereer kan word.

)Besoek www.dieburger.com vir ’n video-uittreksel van die gesprek.

Die Burger
«Terug