Die marionette op die Nasionale Kunstefees op Grahamstad is iets om oor huis toe te skryf.
Non Nova, dieselfde geselskap wat verlede week met die ballet van wind en plastiek beïndruk het (met Cecile Briand op die verhoog), is ook verantwoordelik vir Vortex, vir volwassenes.
Daarin is die danser Phia Ménard, die artistieke regisseur en choreograaf van albei stukke. In Vortex vervel Ménard talle kere van kop tot tone. Uit vreemde swart plastiek klim die danser uit in ’n wit weergawe. Die ou swart vel dans soos ’n losgemaakte skaduwee. Dan later, uit ’n wit bors, bloei ’n lang strook swart plastiek. Die wind en ligte toor met die swiepende blinkswart kolk. In ’n wêreld van vervreemdende tonele, ver anderkant konvensie, word die gehoor ingedompel. In Vortex sit ’n spieël wat die onbewuste wys.
’n Lesingdemonstrasie deur ’n marionet het talle nuuskieriges na Handspring se aanbieding I Love You When You’re Breathing gelok. Die marionet, Meneer B., gee met die hulp van sy drie hanteerders ’n lesing tot stigting en lering van die publiek en veral vir die kritici. Ná die kort vertoning het die marionetteurs en regisseur met die gehoor gesels. Die marionet se teenwoordigheid in dié deel is gemis.
In Rothko gaan dit oor Mark Rothko, die Amerikaanse abstrakte ekspressionis van die New Yorkse skool van “colorfield”-skilderkuns.
Hy (vertolk deur Michael Richard) wil hê almal moet alleen na sy pype dans, ’n bietjie soos ’n marionetteur. Sy pas aangestelde assistent, Ken (Jeremy Richard), moet eers sy plek ken. Richard, onder regie van Steven Stead, hou Rothko aan die gehoor voor as ’n tierende egoïs wat sy begrip kort-kort met ’n knertsie versterk. Weldra kruis sy tirades tog met die lewensverhaal van Ken. Dit bring ’n wending in Rothko se siening van Ken mee. Maar vir die grootste deel word Rothko helaas as bombas uitgebeeld. As ’n volronde karakter kom hy hier nie uit die verf nie.
In ’n kerkgebou blaai ’n vrou in die drag van vervloë jare naarstig deur boeke. Sy kry nêrens opgeteken dít waarna sy soek nie: haar naam. Die miskenning in Princess Emma-Ukuzazi, gegrond op Janet Hodgson se teks, wys ’n skreiende plaaslike koloniale geskiedenis. In die St. Philips-sendingskool ontvou die tragiese gebeure: Nadat Nongqawuse se verskriklike profesie tot massiewe veesterftes gelei het, boender die Britte Xhosa-kinders in ’n Victoriaanse stelsel. Die verhaal van die Xhosa-prinses (vertolk deur Masasa Mbageni) wat tot “Emma” ingeperk word, is ’n stuk gans ondervertelde geskiedenis – sover bekend was sy die eerste swart vrou wat grond ontvang het onder die Britse heerskappy in Suid-Afrika.
Eerder as genuanseerde karaktertekening kom hierdie greep as snelskrif uit die geskiedenis en uitroepteken oor. Die gehoorlede moes omtrent nek draai soos wat die verhaal ontvou in hierdie nommer op die openbare kunsprogram, met veral sang wat aangryp en fors toneelspel in Engels en Xhosa in die evokatiewe kerkgebou.
In Through Blue is die geselskap Ubom! op sy stukke. Met kopknikke aan Chaplin in veral Andrew Buckland se bydrae tot die produksie as alkoholis-boemelaar, en met die sfeer van Jean-Pierre Jeunet se flieks se bekoorlike kranksinnighede, bring hulle ’n vars blik na sosiaal-ekonomiese kwessies en die vraag: Hoe lank kan jy oorleef voordat jy jou drome moet verkoop?
Die Burger