Die verlore seun verskyn tematies al eeue lank in die werke van talle dramaturge.
Reeds so vroeg soos 1420 word Spel van dem Verloren Zoonin Dendermonde opgevoer.
In ons moderne drama-oeuvre staan drie toneelstukke rondom dié tema vir my uit.
Harold Pinter se The Homecoming is ’n donker gesinsdrama waar die seun, Teddy, en sy vrou Ruth, besoek aflê by Teddy se werkersklasfamilie in Noord-London.
Teen die einde keer Teddy terug na sy nuwe lewe in Amerika, en Ruth bly simbolies agter as die vetgesmeerde kalf, en hoeder van sy pa en broers se disfunksionaliteit.
In Adam Small se roerende Kanna hy kô hystoe word groot gewag gemaak van Makiet se aanneemkind wat uit die buiteland sal terugkeer.
In die dramatiese chronologie word Kanna ’n simbool van hoop vir die lewendes en dooies, maar helaas weet dié verlore seun hy kan nie meer inpas by sy mense nie.
In Buried Child van Sam Shepard kom Vince, die verlore seun, huis toe na ’n gesin wat op die afgrond van algehele verbrokkeling wankel.
Vince word aanvanklik nie eers herken nie, maar namate hy hom oorgee aan die gesin se donker geheim, raak hy opnuut verstrengel in hul gewelddadige verlede.
Al drie hierdie dramas bied ’n uiteenlopende blik op die seun wat sy ouerhuis verlaat, en ná ’n tydperk van omswerwing terugkeer met die hoop op versoening en vergifnis.
Die kiem van hierdie tydlose dramas vind vir my aansluiting by my gunsteling-beskrywing van ’n verlore seun se tuiskoms, deur die Tsjeggiese skrywer Franz Kafka.
Kafka se verlore seun staan talmend in die agterplaas van sy vader en wonder of hy sal tuis voel nog voor die deur oopgegaan het.
Hy luister op ’n afstand na die gesprek om die tafel binne.
Hy verbeel hom hy hoor die dowwe slag van die klokhorlosie uit sy jeug.
Hy besef hoe langer hy wag, hoe meer vervreemd raak hy van hulle daarbinne.
Oplaas vra hy homself af: “Wat sal gebeur as iemand skielik die deur oopmaak? Sal hy dan ook reageer soos iemand wat ’n geheim in eie boesem dra?”
Kafka se verlore seun stap miskien uiteindelik weg as Augustinus se hergeborene, en die draer van ’n verborge wete dat dieselfde deur waarvoor hy uiteindelik staan, ook die deur is vanwaar hy destyds vertrek het.
Die Burger