Die jaar 2010 was vir die plaaslike musiekbedryf een van uiterstes. Te oordeel aan die kleiner aantal CD’s van nuwe kunstenaars wat verskyn het, het baie opkomende sangers eers vanjaar die ware knyp van die resessie op die broeksak gevoel.
Aan die ander kant was daar kunstenaars wat ver oor die landgrense gevlieg het om oorsee ’n impak te gaan maak. Ook in Afrikaans.
By vanjaar se Suid-Afrikaanse musiekpryse (Samas) was dit vir die tweede jaar agtereenvolgens ’n Afrikaanse kunstenaar wat met die prys vir die beste algehele verkoper huis toe is. Dié eer het Bok van Blerk vanjaar te beurt geval vir sy Afrikanerhart uit die Mozi Records-stal, wat ook verlede jaar se wenner, Lianie May se Vergeet my nie, opgelewer het.
Gerhard Steyn se Diamante vir jou was verder die digitale topverkoper op een toonaangewende digitale platform, met Afrikaanse kunstenaars wat die drie ander bestes in hul boonste vier was.
Dat die Suid-Afrikaanse publiek nie omgee om hul ondersteuning vir eiegoed te toon nie, blyk ook uit die getroue bywoning van konserte soos Huisgenoot se Skouspel! en vele ander. En verder word daar binne die bedryf met graagte pryse uitgedeel aan kunstenaars met nog toekennings soos die Vonk- en Tempo-pryse.
Die prestasies van Afrikaanse kunstenaars weerspieël waarskynlik lojaliteit aan die koperspubliek. Ek hoor dikwels die stelling dat mense verkies om nie musiek onwettig te kopieer nie, maar dit te koop omdat hulle die kunstenaar wil ondersteun.
Aan die ander kant is ons in Suid-Afrika waarskynlik nog betreklik beskerm teen die digitale tsoenami wat in die buiteland reeds met volle krag getref het, en daarmee saam die moontlikheid bring om alles gratis op die internet te kry eerder as om daarvoor te betaal.
Die tradisionele CD-winkel het daar bykans verdwyn, met musiek wat per snit digitaal veral op iTunes aangekoop word. Hoewel maatskappye soos Rhythm Online reeds plaaslik met soortgelyke platforms begin het, is dit nog hier die uitsondering eerder as die reël om musiek só aan te koop. Tans nog, in elk geval.
’n Mens kan nie oor 2010 en musiek praat sonder om die fenomeen van Die Antwoord te noem nie. Met ’n onbeskaamde zef aanslag met mullet-haarstyl en goue tande, en lirieke wat dwarsdeur die grensdrade van aanvaarbaarheid gebeur het, het hulle die wêreld verower.
Dieselfde geld Jack Parow, wie se selfgetitelde album vir volwaardige Afrikaanse rap gesorg het, hoewel dan ook aan die skurwe kant. Parow was eweneens ’n sensasie oorsee, veral in Nederland.
Wat verder in die jaar opgeval het, is die groot aantal Afrikaanse flieks wat verskyn het, elk met sy eie klankbaan. Die musiekprent Liefling het groot sukses by die loket beleef en aan sangers soos Kurt Darren, Bobby van Jaarsveld en Sonja Herholdt blootstelling op die silwerdoek gegee. Karen Zoid het ook haar buiging gemaak, in die fliek Susanna van Biljon, en ook getref in haar eie briljante CD, Terms & Conditions.
Top albums
Hanru Niemand se Roepwoorde.
Hy verwoord verlange, besin oor treurige dinge en laat jou nadink. Hier is musiek wat sweef en woorde wat kommunikeer.
Foto na Dans se Die Vloed.
Dit lyk of hierdie groep geen foute kan begaan nie. Die simfoniese en rockklanke is dramaties en beklemtoon die teenstellings wat ook in die lirieke is.
Riku Lätti se klankbaanmusiek van die rolprent Die ongelooflike avonture van Hanna Hoekom. Van al vyf klankbaan-albums wat vanjaar saam met plaaslike rolprente uitgereik is, is dié een die enigste wat werklik indruk maak.
Red Earth and Rust se dubbelalbum Wrestling the Angel en Dark Mercy. Hierdie folkerige, blueserige kontemporêre rock dra duidelik die stempel van die komponis Jacques Coetzee en die liriekskrywer Barbara Fairhead.
amaBhulu? se Die Wis en die Onwis. Dit is bekende musiek gegeur met reggae, country en die blues. Dis nouveau-boermusiek wat veral tot mense in die Wes-Kaap sal spreek.
Bittereinder se ’n Ware verhaal. Weldeurdagte rap sonder kommersiële wellus. Die rym vloei egalig en die musiek is veelvlakkig.
Andra se Ever had that Feeling. Andra se rou stem is haar grootste bate. Haar liedjies roep beelde van vreemde plekke en ongeleefde geleenthede op. - Mariana Malan