DieBurger

Assad slaan terug in stryd om stad

2012-08-09 07:00

ALEPPO. – Pres. Basjar al-Assad van Sirië het gister beheer oor die land se grootste stad begin herwin nadat sy magte een van die grootste teenaanvalle tot dusver uitgevoer het.

Aleppo word allerweë as die kernpunt van die magstryd beskou en Assad moet die stryd om Aleppo wen om sy beheer oor die land te behou.

Die rebelle het tot onlangs groot dele van dié stad beset.

“Ons het onttrek, maak dat julle wegkom!” het ’n vegter aan verslaggewers van Reuters met hul aankoms in die stad se Salaheddine-streek geskreeu. Kontrolepunte wat die afgelope week deur die rebelle beman is, het verdwyn.

Regeringsmagte het die meeste van die rebelle in Salaheddine doodgemaak en elders versprei om ’n nuwe offensief te begin, het die staatstelevisie berig.

Dinsdag het minstens 240 mense landwyd in die geweld omgekom, volgens ’n Brits-gebaseerde menseregte-organisasie.

Die jongste aanval dui daarop dat Assad aan die mag vasklou, hoewel hy vandeesweek ’n groot terugslag beleef het toe een van sy nuut aangestelde premiers ná net twee maande as hoof van die stad Qunatara bedank en gevlug het.

Die rebelle het vroeër beweer premier Riyad Hijab het Maandag na Jordanië gevlug, maar Hijab het eers gisteroggend vroeg oor die grens beweeg. Beeldmateriaal het gewys hoe hy samesprekings met die rebellemagte – die Free Syrian Army – in die stad Deraa aan die Jordaniese grens voer.

Stryd om oorlewing

Assad se herwinning van Aleppo is ook die sterkste beweging sedert hy die mag in Damaskus terugverkry het nadat vier van sy vertrouelinge daar op 18 Julie gesneuwel het – onder wie sy gevreesde swaer Assef Shawkat.

Satellietbeelde wat tussen 23 Julie en 1 Augustus deur Amnestie Internasionaal (AI) verkry is, wys meer as 600 kraters in Aleppo en omgewing. Dié kraters is waarskynlik weens artillerie-aanvalle. AI is bekommerd dat veral die swaar wapentuie wat in woongebiede ontplooi word tot growwe menseregteskendings kan lei.

Tienduisende mense het sedert die oproer uit Sirië gevlug.

Sowat 47500 vlugtelinge is tans in Turkye en minstens 18000 is dood sedert die oproer in Maart 2011 begin het. Twee generaals skuil ook in Turkye. Die meeste burgerlikes is vroue en kinders, het die land se ministerie gesê.

Die Burger
«Terug