TOKIO. – Japan het die atoombom-aanval op Hirosjima 67 jaar gelede gister herdenk.
Sowat 50000 mense het in Hirosjima se vredespark, naby waar die bom in 1945 ontplof het, byeengekom. ’n Tweede bom is op 9 Augustus op Nagasaki gegooi, waarna Japan oorgegee en die Tweede Wêreldoorlog geëindig het.
Die seremonie is bygewoon deur verteenwoordigers van sowat 70 lande. Oudpres. Harry Truman van die VSA se kleinseun, Clifton Truman Daniel, was ook teenwoordig. “Ek is twee generasies later. Dit is my verantwoordelikheid om seker te maak ons gebruik nooit weer kernwapens nie,” het hy gesê.
Die burgemeester van Hirosjima, Kazumi Matsui, het gesê Japan moet ’n groter rol speel in ontwapeningspogings en het wêreldleiers gevra om na sy stad te kom “om vrede te bepeins”.
Die Burger