Die Duitse minister van finansies, Wolfgang Schaeuble, het Brittanje gister in
’n koerantonderhoud gewaarsku om nie Europese lande “af te pers” om sodoende
Brussel sy mag te ontneem nie.
“Ons wil Brittanje graag in die Europese Unie (EU)
hou,” het Schaeuble aan die Frankfurter Allgemeine gesê. “Maar ek
moet ook byvoeg dit beteken nie dat iemand ons kan afpers nie.”
Op die vraag of die huidige Engelse debat oor ’n
moontlike referendum oor Brittanje se toekomstige deelname aan die magsblok van
27 lande “enige gevaartekens inhou”, het Schaeuble gesê die EU moet ’n duidelike
boodskap aan die res van die wêreld stuur.
“Ons Engelse vriende hou geen gevaar in nie. Maar ’n
referendum sal onsekerheid teweegbring.”
Brittanje is sedert 1973 lid van die EU, maar het nie
aangesluit by die eurosone van 17 lande nie.
Schaeuble is een van die Duitse kanselier, Angela
Merkel, se getroue bondgenote in die beplanning van ’n besuinigingsprogram om
die skuldkrisis van die eurosone die hoof te bied, asook om groter politieke
integrasie tussen die betrokke 17 lande te bewerkstellig.
Die konserwatiewe Engelse premier, David Cameron, het
verlede maand gesê hy steun steeds lidmaatskap van die EU, maar kan nie die
huidige stand van sake aanvaar nie en verkies “?’n nuwe skikking” wat sekere
magte aan Brittanje teruggee.
Tot op hede het hy weggeskram van ’n moontlike
“binne-buite-” referendum oor die EU, nieteenstaande sterk druk van sy eie party
oor duidelikheid hieroor.
Spanning het verlede maand opgebou toe Cameron die EU
se begroting van $1,3?biljoen (sowat R11?miljard) vir die volgende sewe jaar
teengestaan het.
Volgens Cameron is hoër uitgawes onaanvaarbaar terwyl
soveel lande besuinigingsmaatreëls moet toepas.