FERRERA (Italië). – Minstens 24 naskokke het plaasgevind binne enkele ure nadat ’n aardbewing in die noordooste van Italië Sondagnag ses lewens geëis.
Die episentrum van die aardbewing van 6,0-sterkte was Finale Emilia, 36km noord van Bologna, en die diepte was 5,1km.
Een van die naskokke was 5,1-sterkte en swaar reën het voortdurend voorgekom.
Sowat 3000 mense is uit hul huise verwyder en hospitale en ouetehuis in Finale Emilia en omliggende dorpe is as voorsorgmaatreël ontruim.
Duisende mense het Sondagnag in hul voertuie of tydelike skuilings deurgebring. Talle huise en geskiedkundige geboue soos kerke is platgevee. Die Emilia Romagna-streek is die hartland van Italiaanse nywerhede asook argitektoniese en kunsskatte.
Angsbevange inwoners wat nie in verswakte geboue wou bly nie, het die nag in hul voertuie geslaap terwyl ander in tydelike skuilings tuisgegaan het waar die owerhede beddens, tafels en stoele opgerig het.
“Luidens aanvanklike berigte is aansienlike skade aan kulturele erfenisterreine aangerig,” het die kultuurministerie gesê nadat die skuddings ook in stede soos Bologna, Ferrara, Verona en Mantua gevoel is.
José Manuel Barroso, hoof van die Europese Kommissie, het gesê hulle “is gereed om te help indien ons versoek sou word”.
Die Burger