KAïRO. – Duisende betogers met vlae het gister hier op Tahrir-plein vergader vir Vrydag-gebede terwyl Egipte se presidensiële kandidate, ’n Islamiet en ’n voormalige generaal, mekaar daarvan beskuldig het dat hulle die verkiesing probeer “steel”.
Die uitslag van die verkiesing is ná vyf dae steeds nie bekend gemaak nie.
Die Moslem-Broederskap, wie se kandidaat, Mohamed Morsy, sê hy het reeds gewen, het ’n beroep op sy ondersteuners gedoen om in hul massas te waak by die geboorteplek van verlede jaar se Arabiese Lente. Hulle moet dit doen tot die regerende militêre raad opdragte herroep wat die nuwe president se magte beperk en wat ook die nuwe Islam-beheerde parlement opgeskort het.
Die vertraging met die aankondiging van die uitslag het tot vrese gelei dat die weermag wil probeer om die verkiesing ten gunste van Ahmed Shafik, die voormalige eerste minister, te swaai.
’n Finale uitslag word nie voor vandag of môre verwag nie en dit kan tot ’n spanningsvolle naweek lei, hoewel die meeste Egiptenare, waarvan baie nie ingenome is met enigeen van die twee kandidate nie, tuis gebly het en gister die einde van die Moslem-naweek soos gewoonlik deurgebring het.
Baie mense in die georganiseerde Islamitiese massabewegings en in die meer gefragmenteerde sekulêre liberale opposisie vrees dat ’n oorwinning vir Shafik, gekombineer met die militêre raad wat die gesag oor wetgewing en die skryf van ’n nuwe grondwet oorneem, kan lei tot ’n voortsetting van die ses dekades van militêre heerskappy van vroeër.
“Dié is ’n klassieke teenoffensief wat net deur die mag van die betogers weerlê sal word,” het Safwat Ismail, ’n lid van die Moslem-Broederskap, gesê.
“Ek bly hier op die plein tot die militêre raad bedank,” het hy gesê.
Die Burger