LONDEN. – Die Ierse skrywer Maeve Binchy (72) het Maandag ná ’n kort siekte in ’n Dublin-hospitaal gesterf, het die Irish Times berig.
Binchy, skrywer van topverkopers soos Circle of Friends en Tara Road,is as een van Ierland se gewildste skrywers beskou.
Haar werk het haar al ’n plek op die New York Times se lys vir top-verkopers besorg. Haar boeke is ook deur Oprah Winfrey se boekklub aanbeveel.
Binchy het aan die University College Dublin gegradueer en eers onderwys gegee voordat sy as ’n joernalis by die Irish Times gewerk het en later as romanskrywer bekend geword het.
Haar laaste roman, Minding Frankie,is in 2010 gepubliseer en sy het ook in dieselfde jaar ’n prys vir lewenslange prestasie van die Irish Book Awards ontvang.
Die Burger