JOHANNESBURG. – Israel maak gereed om nou ook sowat 2000 immigrante van die Ivoorkus uit die land te skop.
Dié stap volg op die huidige proses om meer as 60000 ander uit Afrika-lande suid van die Sahara terug te stuur.
Meer as 300 Suid-Soedannese is in die afgelope weke met huurvlugte, waarvoor Israel betaal, na Juba teruggestuur.
Dié optrede teen die Ivoorkus-immigrante, die meeste van hulle vlugtelinge sedert die staatsgreep verlede jaar, volg nadat samesprekings verlede maand tussen Benjamin Netanyahu, Israel se premier, en pres. Alassane Ouattara van die Ivoorkus gehou is.
“Julle het twee weke om dié land te verlaat. Wie dit wel doen, kom in aanmerking vir ’n toelae. Dié wat dit nie uit eie beweging doen nie, sal in hegtenis geneem en uitgegooi word,” het Eli Yishai, Israel se minister van binnelandse sake, gister volgens The Jerusalem Post gesê.
Die toelae vir die Ivoorkus-burgers wat die land vrywillig verlaat is $500 (R4250) vir volwassenes en $100 (R850) per kind. Dis minder as die helfte van wat die Israelse regering aan die Suid-Soedannese aangebied het.
Die verskil tussen die bedrae is gister deur ’n woordvoerder van die Israelse regering as “onbelangrik” afgemaak, aangesien die Israelse regering “onder geen verpligting is om enige vergoeding aan te bied nie”.
Die eerste groepe Suid-Soedannese wat na hul land teruggeneem word, het vrywillig daartoe ingestem en vir die “afskeidstoelaes” gekwalifiseer.
Die uitsettings van vlugtelinge uit Afrika volg ná aanvalle deur Israeli’s op immigrante-gemeenskappe in Tel Aviv en Haifa.
Die Israelse regering het gesê situasies in sowel Suid-Soedan as die Ivoorkus het genormaliseer sedert die konflik beëindig is. Daar is dus geen rede waarom Israel hul burgers as vlugtelinge moet ontvang en huisves nie.
Die Burger