DieBurger WEBWERWE/DIENSTE >

Navo is ’n dun anker teen die storms

Deur: Leopold Scholtz 2012-05-22 00:00

Die pas afgelope spitsberaad van die 28 Navo-lande in Chicago het een ding goed gewys: Die internasionale politiek word steeds ingewikkelder, vloeibaarder en moeiliker om te beheer.

Die beraad het veral drie kwessies gedek.

Die eerste is Afganistan. Dis duidelik dat die politieke wil om enduit tot die eindoorwinning voort te veg, verdamp het. Waarom dit nou gaan, is om met die minste skade uit ’n verlore oorlog te verkas.

Die 28 regeringsleiers het ingestem tot ’n voorneme van pres. Barack Obama om die terugtrekking van die troepe reeds oor ’n jaar te begin, offensiewe operasies teen die Taliban dan te staak en die laaste troepe oor twee jaar huis toe te neem.

As vyeblaar is ooreengekom om die regering van pres. Hamid Karzai in Kaboel met $1 miljard te subsidieer om sy eie oorlog te veg.

Maar selfs dié voorneme was nie onomstrede nie. Pres. François Hollande van Frankryk het, ondanks die ontsteltenis van die ander leiers, vasgeklou aan sy verkiesingsbelofte om die sowat 3500 Franse troepe reeds teen Kersfees te onttrek.

Die tweede kwessie was die goedkeuring van ’n plan om ’n missielskild in Sentraal-Europa en Turkye op te rig. Dit is om Europa teen middellangafstand-missiele met ’n reikafstand van sowat 3 000 km te verdedig.

Oorspronklik was dit teen ’n uiteindelike Iranse bedreiging gerig, maar dit kan uiteraard net so goed teen ’n Russiese bedreiging gebruik word.

Rusland is woedend, en ’n Russiese generaal het onlangs selfs met ’n militêre aanval op die skild gedreig. Maar dit word allerweë as ’n leë dreigement beskou.

Die missielskild hang saam met die derde saak, naamlik “slim” verdediging.

In die lig van die krimpende verdedigingsbegrotings waartoe Navo deur die ekonomiese krisis gedwing word, is besluit om die Navo-weermagte, hul bestuur en wapenaankope toenemend te integreer.

Uiteindelik is dit duidelik dat Navo maar ’n dun anker is om die storms van die onstabiele internasionale politiek te trotseer.

Die Burger
«Terug