DieBurger

Onrus voor Libië-eleksie

Deur: André le Roux 2012-07-07 07:00

JOHANNESBURG. – Die moontlikheid van geweldpleging is nie uitgesluit nie wanneer 2,7 miljoen Libiërs vandag die eerste keer in 60 jaar stem om ’n grondwetgewende vergadering saam te stel.

Een van Libië se belangrikste olieterminale asook die hawe by Ras Lanuf in die ooste van die land moes gister op aandrang van aktiviste sluit nadat hulle gedreig het om dit te ontwrig.

Vroeër is ’n verkiesingskantoor in Benghazi verwoes.

In albei gevalle het betogers protes aangeteken teen die huidige oorgangsregering se verwerping vooraf van ’n federale verdeling van Libië in die komende grondwetskrywende proses.

Vandag se veelparty-verkiesing is ook die eerste sedert kol. Moeammar Ghaddafi die bewind van koning Idris in 1969 in ’n staatsgreep omvergewerp het. Ghaddafi is in Oktober verlede jaar doodgeskiet ná ’n burgeroorlog van nege maande.

’n Grondwetgewende vergadering van 200 lede word verkies wat ’n nuwe grondwet vir Libië moet opstel.

Meer as 140 politieke partye met 1200 kandidate asook 2500 onafhanklike kandidate neem in 72 kiesafdelings aan die verkiesing deel.

Die grondwetgewende vergadering sal uit 120 onafhanklike lede en 80 politieke partyverteenwoordigers bestaan.

Die oorgangsraad het beslis dat 100 van die 200 setels aan die weste van die land toegeken sal word, 60 aan die ooste en 40 aan die ylbevolkte suide van Libië.

Die grondwetgewende vergadering het 120 dae om ’n nuwe grondwet met ’n tweederdemeerderheid plus een goed te keur.

Hulle het daarna 30 dae om ’n nuwe kieswet op te stel, waarna ’n verkiesing vir ’n nuwe wetgewende gesag en regering binne 180 dae moet volg.

Die verwagting is dat Islamitiese kandidate en partye goed sal vaar in die verkiesing.

Die verkiesingsveldtog is gekenmerk deur ernstige faksiebotsings nadat die oorgangsraad honderde voornemende kandidate se aansoeke afgekeur het.

Dit was grotendeels kandidate wat daarvan verdink word dat hulle Ghaddafi-lojaliste is wat deur die oorgangsraad van deelname gediskwalifiseer is.

Daar is by verkiesingswaarnemers, onder wie oudpres. Jimmy Carter van die VSA se Carter-stigting, ook kommer dat die verkiesings deur faksiegevegte ontwrig kan word.

Die Burger
«Terug