WASHINGTON. – Die Amerikaanse Republikeinse presidentskandidaat, Mitt Romney, se veldtog was maande lank ’n toonbeeld van dissipline; ’n relatiewe onstuimige vaart vir die voormalige goewerneur van Massachusetts deur ’n onverbiddelike benoemingstryd.
Die afgelope ruk lyk Romney se bootjie egter nie meer so vaartbelyn nie.
Sy misstappe met immigrasie en gesondheidsorg – en foto’s van hom op ’n jetski tydens ’n vakansie by sy New Hampshire-landgoed vandeesweek – het van sy ondersteuners verbitter en hulle dring nou aan op ’n skommeling van sy personeel weens kommer dat hy die Republikeine se kanse om pres. Barack Obama uit die kussings te lig, verbrou.
Dié besorgdhede is Woensdag deur The Wall Street Journal in ’n artikel opgesom, wat gesê het Romney se Boston-personeel is “stadig besig om ’n historiese kans te verkwis”.
“Obama word skade berokken deur ’n ekonomiese herstel wat vir die derde keer in drie jaar verswak,” het die koerant, wie se redaksionele blaaie ’n barometer is van die denkpatrone van prominente konserwatiewes, gesê. “Maar Romney was nog nie in staat om voordeel hieruit te trek nie en is, inteendeel, besig om sy greep te verloor.”
Die vrese rondom Romney se veldtog is dié week aangevuur deur weersprekende weergawes van sy standpunt oor ’n sleutelaspek van die hoërhof se uitspraak wat Obama se gesondheidsorgplan gehandhaaf het.
Intussen het die publikasie Politico berig Romney se veldtog het verlede maand meer as $100miljoen ingesamel, wat nou meer druk op Obama plaas om geld in te samel.
Dié bedrag is ’n rekord vir die 2012-veldtog en is merkwaardig, aangesien die geld ’n volle vyf maande voor die verkiesing in November ingesamel is.
Die Burger