KAAPSTAD. – Die oudste rotskuns in die wêreld is nie net ouer as wat gedink is nie, maar dit is moontlik die werk van Neanderdal-mense.
Dié 50 kunswerke in 11 grotte by Altamira, El Castillo en Tito Bustillo in die noorde van Spanje is wêreldwyd bekend.
Navorsing deur dr. Alistair Pike aan die Universiteit van Bristol in Brittanje verskyn vandag in die vakjoernaal Science, wat ’n nuwe datering op dié kunswerke plaas.
Die El Castillo-grot se handstensils is minstens 40 800 jaar oud, sowat 10 000 jaar ouer as soortgelyke stensils in Frankryk.
Die talle ronde skywe wat ook met die stensil-tegniek geskep is, word nou op sowat 35 600 jaar oud geraam.
Die stensil-tegniek word gebruik wanneer ’n mens sy hand of ’n voorwerp teen ’n muur of ander oppervlak sit en verf hard en herhaaldelik deur dun lippe oor die voorwerpe sproei.
“Die bewyse dat moderne mense in die noorde van Spanje was, dateer tot 41 500 jaar gelede – en voor hulle was die Neanderdal-mense daar.
“Ons navorsing toon dat verf reeds deel van hul kultuur was toe die moderne mense hier aangekom het, of dat dit kort daarna ontwikkel het. Dit het óf in reaksie op die kultuur van die Neanderdal-mense ontwikkel, óf die kunswerke is deur die Neanderdal-mense geskep,” het Pike gesê.
Die ontstaan van kunswerke word geag as ’n belangrike aspek in die evolusie van kognitiewe en simboliese gedrag by die mens. Dit kon onder meer met die ontwikkeling van taal verband gehou het.
Die eerste gegraveerde eierdoppe, oker en krale met gaatjies in, is in Suid-Afrika by die Blombos- en Pinnacle Point-grotte gevind – maar die vroegste rotskuns is in Europa.
Rotskuns bevat dikwels geen of min organiese komponente, wat radio-koolstof-datering onmoontlik maak of bemoeilik. In dié geval is uraan-isotope wat in die dun kalsiet-drupsteen in grotte voorkom, ontleed.
Die Burger