DieBurger

Rusland en Amerika stry oor wapens

Deur: Reuters 2012-06-14 06:00

DOEBAI.– Rusland se minister van buitelandse sake het gister Russiese wapenverkope aan Sirië verdedig en Amerika daarvan beskuldig dat dié land Siriese rebelle van wapens voorsien om teen die Siriese regering te veg.

Die Amerikaanse minister van buitelandse sake, Hillary Clinton, het eergister kommer uitgespreek dat Rusland glo aanvalshelikopters aan Sirië sou verskaf.

Sy het Moskou se argument dat wapenverskaffing aan Sirië nie met die Siriese konflik verband hou nie as “klaarblyklik onwaar” afgemaak.

“Ons oortree geen internasionale wette deur hierdie (wapen)kontrakte nie,” het Sergei Lavrov, Rusland se minister van buitelandse sake, in reaksie op Clinton se aanmerkings op ’n mediakonferensie tydens ’n besoek aan Iran gesê.

Rusland is een van Sirië se hoofverdedigers op die internasionale diplomatieke front en met sy vetoreg as permanente lid van die Verenigde Nasies se Veiligheidsraad het hy Westerse pogings gestuit om druk uit te oefen op pres. Basjar al-Assad om te bedank.

Volgens Lavrov is Rusland se standpunt oor Sirië gebaseer op kommer oor die Siriese bevolking en die land se integriteit, eerder as ’n persoonlike voorkeur van Assad.

“Ons wil Sirië nie sien disintegreer nie,” het Lavrov gesê.

Rusland verset hom teen druk van Westerse en Arabiese Golf-lande om fermer teen Assad op te tree, verwerp voorstelle van sanksies, en stel ’n konferensie voor wat globale en streekleiers byeen sal bring, met Iran ingesluit.

Die Iranse minister van buitelandse sake, Ali Akbar Salehi, meen ook dat Sirië se probleme nie deur eksterne magte opgelos kan word nie.

Iran is Sirië se sterkste streekbondgenoot.

Die Burger
«Terug