KAAPSTAD. – “Eens was dit een klein treetjie(vir die mensdom)...maar nou is dit ses groot wiele – en só lyk hulle op Mars se grond.”
Met dié woorde is die suksesvolle landing van Nasa se Mars-wetenskaplaboratorium, beter bekend as die verkenningstuig Curiosity, gister met ’n twiet deur dié tuig aangekondig.
Kort voor dié twiet het die tuig laat weet: “Ek is veilig op Mars. Krater Gale, ek is binne-in jou!”
Een van die 700 mense betrokke by dié landing is die oud-Matie dr. Japie van Zyl van Namibië, wat al sedert 1986 as mededirekteur van strategie by Nasa se Jet Propulsion Laboratory werk.
Die mees komplekse landing ooit is prefek uitgevoer ná ’n reis van 36 maande na die Rooi Planeet. Curiosity het geland naby ’n berg (Mount Sharp) wat byna 5km hoog is, binne-in die krater Gale wat 155km in deursnee is. Hy is sagkens laat sak met behulp van ’n ruimte-hyskraan wat minute voor landing ontplooi is.
Die tientalle navorsers en tegnici wat deel van die ruimtespan is, het ten tyde van die landing om 07.31 in die sendingbeheerkamer in Pasedena, Kalifornië, opgespring en gejuig.
Die landing is regstreeks uitgesaai met ’n vertraging van sowat sewe minute tussen Mars en die aarde. Daar is na die landingstyd verwys as “die minute van vrees en angs” en later na “die minute van triomf”.
Dr. Charles Bolden, hoof van Nasa, het gesê: “Vandag het die wiele van Curiosity begin om die weg te baan vir menslike voetspore op Mars. Dié mees gevorderde ontdekkingstuig wat nog ooit gebou is, soek nou na antwoorde op die oeroue vrae of daar lewe op Mars was, en of die planeet in die toekoms lewe sal kan huisves.”
Binne twee uur ná die landing het Curiosity die eerste foto’s van een van die navigasiekameras gestuur. Oor ’n paar dae sal die ho-resolusie-kleurkameras die omgewing begin afneem.
Op die eerste foto’s lyk die grond in die krater gruisagtig.
Curiosity het tien wetenskaplike instrumente aan boord en hy sal twee jaar op Mars werk. Van die tegnologie is heeltemal nuut, soos ’n laser om die samestelling van rotse oor ’n afstand te bepaal.
Die tuig sal ’n boor en skepgrafie wat aan die punt van sy robotarm is gebruik om monsters te versamel en aan boord te ontleed.
Hy is twee keer langer en vyf keer swaarder as die vorige Mars-verkenningstuie, Spirit en Opportunity.
Kleigrond en ander minerale wat voorheen op die planeet gevind is, dui daarop dat Mars ’n nat geskiedenis gehad het – en water dui moontlik op lewe.
VIDEO: Marslanding suksesvol
Deel in die blydskap van die span Nasa-wetenskaplikes wat dit reggekry het om die Curiosity, een van die mees gevorderde verkenningstuie wat tot nog gelanseer is, veilig op Mars te laat land. Beeldmateriaal: NASA
Die Burger