WASHINGTON DC. – Die Amerikaanse minister van handel, John Bryson, word ondersoek ná twee ongelukke Saterdag in Kalifornië.
Luidens ’n verklaring wat gister deur die San Gabriel-polisiedepartement uitgereik is, wys ’n voorlopige ondersoek dat Bryson die eerste ongeluk veroorsaak het toe hy omstreeks 17:00 met sy Lexus agter in ’n Buick vasgery het.
Sowat vyf minute later het Bryson glo die tweede ongeluk veroorsaak deur in Rosemead ’n Honda Accord te tref.
Bryson is bewusteloos agter die stuurwiel gevind by die toneel van dié ongeluk. Hy is in ’n plaaslike hospitaal opgeneem.
Die ander voertuie se passasiers het geen ernstige beserings gehad nie. Volgens die polisie “was daar geen aanduiding dat alkohol of dwelms ’n rol in die botsings gespeel het nie”.
Verteenwoordigers vir die Withuis was nie onmiddellik beskikbaar vir kommentaar nie. – Reuters
Die Burger