DieBurger WEBWERWE/DIENSTE >

VSA se aanvalle 'dalk misdadig'

Deur: Leopold Scholtz 2012-06-24 21:22

DEN HAAG. – Die Obama-regering se beleid om vermeende Al-Kaïda-terroriste in Pakistan, Jemen, Afganistan, Somalië en elders deur onbemande vliegtuie te elimineer kan oorlogsmisdade wees.

Só het prof. Christof Heyns, hoogleraar in die regte aan die Universiteit van Pretoria en spesiale VN-rapporteur oor buiteregtelike, summiere en arbitrêre teregstellings, op ’n konferensie van die VN-Menseregtekommissie in Genève, Switserland, gesê.

Die uitskakel van beweerde terroriste deurdat onbemande vliegtuie wat uit Amerika beheer word missiele op sulke mense afvuur, het reeds in die Bush-era begin, maar dit het aansienlik onder die regering van pres. Barack Obama toegeneem.

Onlangs is in internasionale media berig dat Obama persoonlik toestemming moet gee vir elke beweerde terroris wat op dié manier doodgemaak word.

Heyns het syfers aangehaal waarvolgens minstens 957 mense slegs in 2010 in Pakistan in sulke aanvalle gesterf het. Sowat 20% van hulle is onskuldige burgerlikes, het hy gesê.

Hy het verwys na verslae waarvolgens reddingswerkers en begrafnisgangers doelbewus geteiken word. As dit so is, “is daar geen twyfel oor die reg nie: Daardie aanvalle is ’n oorlogsmisdaad.” Hy het ook ’n beroep op die Amerikaanse regering gedoen om die prosedures, reëls en regsadvies wat sy beleid ten grondslag lê, openbaar te maak.

John O. Brennan, Obama se raadgewer oor terreur, het die aanvalle as “wettig, eties en wys” verdedig. Dit is daarop gemik om terreuraanvalle op Amerika te voorkom en Amerikaanse lewens te red, het hy gesê.

Die Pakistanse ambassadeur by die VN in Genève, Zamir Akram, het gesê die gebruik van onbemande vliegtuie is onwettig, dit verkrag sy land se soewereiniteit, en is teenproduktief. “Duisende onskuldige mense is in dié willekeurige aanvalle vermoor,” het hy beweer.

Die Burger
«Terug