DieBurger WEBWERWE/DIENSTE >

Vroue in tennis verdien die beste

2012-08-01 05:00

LONDEN. – Die Franse Ope-kampioen Maria Sharapova is vir die agtste agtereenvolgende keer bo-aan die lys van die wêreld se hoogsbetaalde vroue in professionele sport, toon Forbes se jaarlikse peiling.

Die 25-jarige Rus, een van sewe tennisspelers in die toptien op dié lys, het ’n geraamde $27,1miljoen (R233miljoen) van Julie verlede jaar tot Julie vanjaar verdien, waarvan die grootste gedeelte borgskappe is.

Dit was 47% meer as haar naaste mededinger, Li Na van China, wie se oorwinning in die Franse Ope verlede jaar daartoe bygedra het dat dié nr. 11-speler in die wêreld haar inkomste van $8 miljoen (R65,9miljoen) tot $18 miljoen (R148,4miljoen) opgestoot het sedert verlede jaar se peiling.

Serena Williams, die voormalige wêreldkampioen van die VSA, Caroline Wozniacki van Denemarke en die Nascar-kampioen Danica Patrick is ook in die topvyf. Hulle het elkeen tussen R107miljoen en R132miljoen verdien.

Die huidige nr.1-tennisspeler, Victoria Azarenka van Wit-Rusland, die Serwiër Ana Ivanovic en die Pool Agnieszka Radwanska is die ander tennisspelers in die toptien.

Die Koreaanse figuurskaatskampioen Kim Yu-na van Korea is sewende op die lys en die Taiwannese gholfkampioen Yani Tseng tiende.

Die topvyf geldmakers is:

1. Maria Sharapova (tennis);

2. Li Na (tennis);

3. Serena Williams (tennis);

4. Caroline Wozniacki (tennis);

5. Danica Patrick (motorsport). – Reuters


Die Burger
«Terug