BEIROET. – Die Siriese ambassadeur in Irak het pres. Basjar al-Assad van Sirië die rug toegekeer en ’n beroep op die weermag gedoen om “hul wapens op die misdadigers” in die regering te rig.
Nawaf al-Fares, wat die eerste ambassadeur is wat Al-Assad versaak, het noue bande met die veiligheidsdienste. Dit het gevolg enkele dae nadat Manaf Tlas, ’n brigadier-generaal in die elite- republikeinse wag wat saam met Al-Assad grootgeword het, ook oorgeloop het.
Al-Fares sê in ’n videoverklaring op Facebook herhaaldelik die regeringsmagte vermoor burgerlikes. “Ek verklaar dat ek voortaan deel is van die revolusie van die Siriese volk.
“Ek vra lede van die weermag om hulle by die revolusie aan te sluit en om die land en sy burgers te verdedig. Rig jul vuurwapens op die misdadigers in die regime,” het hy gesê.
“Elke Siriese man moet deel van die revolusie wees om die nagmerrie en die bende te stuit.” Hy het die Al-Assad-familie en hul bondgenote van korrupsie en die “vernietiging van gemeenskappe” die afgelope 40 jaar beskuldig.
In reaksie het die Siriese regering in ’n verklaring gesê Al-Fares is van sy pligte onthef.
Die Irakse minister van buitelandse sake, Hoshiyar Zebari, het gesê Fares is nou in Katar, een van die state in die Persiese Golf wat die rebelle openlik steun en wat gevra het dat Al-Assad bedank. “Hy (Al-Fares) het ’n sterk militêre en veiligheidsagtergrond,” het Zebari aan joernaliste in Parys gesê.
Intussen het inwoners van Damaskus gesê soldate het gister vir die eerste keer die hoofstad gebombardeer. Hulle het Kfar Souseh, ’n voorstad in die suide, omsingel en mortiere, weermagtenks en voetsoldate ingespan om rebelle uit te wis.
“Die inwoners is bang. Sommige mense vlug in hul motors om weg te kom,” het Hazem al-Aqad, ’n opposisie-aktivis, gesê.
Die Burger