MOSKOU en CHICAGO. – Uitermate koue weer in Rusland en Oos-Europa het tot die dood van bykans 200 mense gelei, volgens amptelike syfers wat gister bekend gemaak is, met weervoorspellers wat gewaarsku het dat die koue weer tot Oukersaand sal voortduur.
Die temperatuur is al ’n week lank konstant onder -20°C in Moskou en onder -50°C in groot dele van Siberië.
In die Oekraïne is 83 mense reeds dood, van wie 57 op straat gevind is. Haweloses word gewoonlik die swaarste deur dié streek se winters getref.
Volgens die Poolse polisie is 49 mense in Oos-Europa aan blootstelling dood.
In die VSA kon honderde vliegtuie Donderdag nie opstyg nie as gevolg van ’n dodelike sneeustorm. Hoofweë en paaie was onbegaanbaar terwyl mense gereed gemaak het vir die Kersvakansie. Meer as 30cm sneeu het oornag in dele van Wisconsin, Iowa en Minnesota geval.
Minstens een mens is dood in ’n kettingbotsing waarin 25 motors betrokke was nadat sigbaarheid op ’n Iowa-hoofweg so sleg was dat motoriste nie die vragmotors en motors voor hulle kon sien wat stadiger gery of gestop het nie. – Sapa-AFP
Die Burger