News24

SAL brei buitelandse vlugskedule verder uit

2011-01-27 07:48
Johannesburg. - Die Suid-Afrikaanse Lugdiens (SAL) sal van 1 Mei met ’n regstreekse vlug tussen Johannesburg en New York begin.

Die lugdiens vlieg tans na New York via Dakar, Senegal.

Die SAL het gister ’n paar veranderings aan sy netwerk en vlugskedule aangekondig.

Mnr. Fani Zulu, die SAL se woordvoerder, sê die aanpassings sal die SAL se produk versterk en verbeter. Hy sê die regstreekse vlug na New York sal ook Johannesburg se posisie as die spilpunt vir lugdienste in Sub-Sahara-Afrika vestig.

“Die Airbus A340-600-vliegtuie sal gebruik word vir die regstreekse vlug,” sê Zulu.

Mnr. Theunis Potgieter, die SAL se kommersiële bestuurder, sê die vlug is geskeduleer om 06:40 in New York te land.

“Die vlugte sal daagliks vanaf Johannesburg vertrek om 20:35 plaaslike tyd en sal vinnige en gemaklike aansluitings bied na ander Amerikaanse stede soos Boston en Chicago sowel as deelstate soos Florida en Kalifornië en ander omliggende lande soos Kanada en die Karibiese Eilande.”

In die pas met die SAL se visie om sy voetspoor in Afrika uit te brei, het die lugdiens ook ’n paar veranderings aangekondig rakende vlugte in Afrika.

“Danksy die hoër vraag sal die SAL van vandag met wyeromp-vliegtuie wat meer passasiers op ’n slag kan vervoer Nairobi toe vlieg,” sê Potgieter.

“Die verandering aan dié daaglikse vlug sal die vermoë verhoog van 2 918 sitplekke per week tot 3 500 sitplekke.” Van 27 Maart sal die SAL ook begin om wyeromp-vliegtuie te gebruik op 7 van die 20 weeklikse vlugte tussen Johannesburg en Windhoek.

“Die getal sitplekke sal verhoog van 5 830 tot 6 746. Passasiers wat tussen Johannesburg en Nairobi of Windhoek reis, sal voortaan ook op dié roetes in die sakeklas sitplekke kan hê wat ten volle platslaan. Daar is ook meer ruimte op die groter vliegtuie in die ekonomiese klas.”

Van 29 Maart sal die SAL ook ’n daaglikse vlug instel tussen Johannesburg en Entebbe, Uganda, en ’n bykomende vlug na Harare sal ook aangebied word, wat die totale vlugte per week na die hoofstad van Zimbabwe op 18 te staan sal bring. Zulu sê die SAL het ook veranderings aangebring op die binnelandse netwerk.

“Die getal sitplekke wat tussen Johannesburg en Kaapstad beskikbaar is, sal verhoog danksy ’n bykomende geskeduleerde vlug met ’n wyeromp-vliegtuig op dié roete,” sê Zulu.