Harare – Die Zimbabwiese President, Robert Mugabe, het glo aan ‘n voormalige minister in sy regering gesê hy wil uittree, maar hy vrees sy party sal disintegreer, het ‘n koerant Sondag berig.
“Uit wat ons bespreek het, het Mugabe gesê hy is moeg en hy wil uittree, maar hy kan dit nie doen nie, aangesien Zanu-PF sal sterf,” het Enos Nkala, ‘n voormalige minister van verdediging van Mugabe se regering in die laat-1980’s, aan die onafhanklike
The Standard gesê nadat hy Vrydag met die 88-jarige president vergader het.
Mugabe se woordvoerder was nie onmiddellik beskikbaar vir kommentaar oor Nkala se opmerkings nie.
Nkala, wat fel kritiek lewer op Mugabe in onlangse jare, het ‘n uur lank privaat met hom vergader in Bulawayo, sowat 430 kilometer suidwes van Harare, het
The Standard berig.
Nkala het gewaarsku dat die opvolging van Mugabe ‘n delikate kwessie bly en indien dit nie reg hanteer word nie, kan lei tot “chaos of burgeroolog”.
“Dit is maklik vir mense om te sê Mugabe moet gaan, Mugabe moet gaan, maar die meeste weet nie dat hy die gom is wat die land aanmekaar hou nie,” het hy gesê.
Mugabe, wat aan bewind van die land is sedert onafhanklikheidswording in 1980, word deur sy party ondersteun om as kandidaat te staan in die volgende verkiesing, nadat ‘n magsdelingsregering in 2009 gevorm is ná verkiesings wat in twyfel getrek is.
Hy en sy groot teenstander, Eerste Minister Morgan Tsvangirai, is al lank in ‘n rusie betrokke oor wanneer die volgende verkiesing gehou kan word. Mugabe wil so gou moontlik uit die magsdelingsooreenkoms kom, terwyl Tsvangirai daarop aandring dat sleutel-hervormings eers in plek moet wees.
Gerugte oor Mugabe se swak gesondheid is ook onlangs wyd versprei. Hy en sy top-beamptes ontken egter dat hy prostaatkanker het, nadat ‘n Amerikaanse dokument van 2008 uitgelek het waarin die goewerneur van die reserwebank, Gideon Gono, gesê het Mugabe ly aan dié siekte en dat dit deur sy liggaam versprei het.
- Volg Nuus24 op
Twitter
Sapa - AFP