Benghazi – Libiese kiesers het Saterdag by stemlokale oor die land heen hul opwagting gemaak om 'n nasionale kongres met 200 setels te verkies.
Dié kongres sal die mag hê om wette te maak en 'n nuwe regering aan te stel.
Ongeveer 2,7 miljoen Libiërs het geregistreer om te stem vir die nasionale kongres, wat sal bestaan uit 120 lede wat direk verkies is, en 80 lede wat deur partye aangewys is.
Sowat 2 500 kandidate ding mee om die setels in die direkte verkiesing, en die partye het 1 202 name op die lys vir lede wat deur hulle aangestel kan word. Daar is sowat 6 600 stemlokale in 13 stede, het die verkiesingskommissie gesê.
Die verkiesing is egter nie sonder probleme nie. In die oostelike stad Benghazi sal sommige kiesers die verkiesing boikot, en protesoptogte word beplan oor beweerde ongelyke verteenwoordiging.
Dié optogte word gehou in protes teen die verskil in die aantal setels wat aan die ooste en die weste toegeken is. Die westelike streek, wat Tripoli insluit, het 106 setels ontvang, terwyl die oostelike streek, insluitend Benghazi, net 60 setels het. Die oorblywende setels is aan die suidelike streek toegeken, wat nie so dig bewoon is nie.
– Volg Nuus24 op
Twitter.
Sapa-DPA